Spring na inhoud

Kan ek woorde van vertroosting in die Bybel vind?

Kan ek woorde van vertroosting in die Bybel vind?

Die Bybel se antwoord

 Ja (Romeine 15:4). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van Bybelverse wat al baie mense wat met moeilike situasies en emosies sukkel, vertroos het.

In hierdie artikel

 Teenstand

 Psalm 23:4: “Al loop ek in die vallei van diep skaduwee, is ek nie bang vir enige gevaar nie, want u is met my.”

 Wat dit beteken: Wanneer jy tot God bid en op sy Woord, die Bybel, vertrou vir leiding, kan jy moedig wees wanneer jy teenstand ervaar.

 Filippense 4:13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”

 Wat dit beteken: God kan jou die krag gee om enige probleem te hanteer.

 Die dood van ’n geliefde

 Prediker 9:10: “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in die Graf . . . nie.”

 Wat dit beteken: Dié wat gesterf het, kry nie swaar nie en hulle kan ons ook nie seermaak nie. Hulle is nie bewus van enige iets nie.

 Handelinge 24:15: “Daar [sal] ’n opstanding . . . wees.”

 Wat dit beteken: God kan ons geliefdes wat gesterf het, weer lewend maak.

 Om vas te hou aan skuldgevoelens

 Psalm 86:5: “Want u, o Jehovah, a is goed en vergewe vryelik. U is vol lojale liefde vir almal wat u aanroep.”

 Wat dit beteken: God vergewe dié wat regtig jammer is oor die foute wat hulle in die verlede gemaak het en wat vasbeslote is om nie weer daardie foute te maak nie.

 Psalm 103:12: “So ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder.”

 Wat dit beteken: Wanneer God ons vergewe, verwyder hy ons sondes so ver weg van ons as wat moontlik is. Hy herinner ons nie oor en oor daaraan om ons te beskuldig of te straf nie.

 Hartseer

 Psalm 31:7: “U het gesien hoe ek swaarkry. U is bewus van my groot angs.”

 Wat dit beteken: God weet presies waardeur jy gaan. Hy verstaan jou diepste gevoelens – selfs wanneer ander dit nie verstaan nie.

 Psalm 34:18: “Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is.”

 Wat dit beteken: God belowe dat hy jou sal ondersteun wanneer jy hartseer voel. Hy kan jou die krag gee om jou hartseer te hanteer.

 Siekte

 Psalm 41:3: “Jehovah sal hom op sy siekbed ondersteun.”

 Wat dit beteken: God kan jou help om ’n ernstige siekte te hanteer deur jou innerlike vrede te gee, asook krag, volharding en wysheid om goeie besluite te maak.

 Jesaja 33:24: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”

 Wat dit beteken: God belowe dat daar ’n tyd sal kom wanneer alle mense blakend gesond sal wees.

 Stres en angstigheid

 Psalm 94:19: “Toe sorge my oorweldig het, het u my vertroos en gekalmeer.”

 Wat dit beteken: As ons vir God vra om ons te help wanneer ons stres ervaar, kan hy ons help om kalm te bly.

 1 Petrus 5:7: “Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.”

 Wat dit beteken: God weet wanneer ons swaarkry en hy wil iets daaromtrent doen. Hy nooi ons om vir hom in gebed van ons probleme te vertel.

 Oorlog

 Psalm 46:9: “Hy maak regoor die aarde ’n einde aan oorloë.”

 Wat dit beteken: God se Koninkryk sal binnekort ’n einde maak aan alle oorlog.

 Psalm 37:11, 29: “Die nederiges sal die aarde besit, en hulle sal groot vreugde vind in die oorvloed van vrede. . . . Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe.”

 Wat dit beteken: Goeie mense sal vir ewig vrede op die aarde geniet.

 Bekommernis oor die toekoms

 Jeremia 29:11: “‘Ek weet goed wat ek vir julle in gedagte het,’ sê Jehovah. ‘Ek wil julle vrede gee, nie rampspoed nie. Ek wil julle ’n toekoms en ’n hoop gee.’”

 Wat dit beteken: God gee sy volk die versekering dat hulle na ’n blink toekoms kan uitsien.

 Openbaring 21:4: “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie. Die vorige dinge is verby.”

 Wat dit beteken: God belowe om ontslae te raak van al die slegte dinge wat jy vandag sien en ervaar.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel: “Wie is Jehovah?