Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die heuningkoek

Die heuningkoek

HEUNINGBYE (Apis mellifera) bou hulle heuningkoeke met was wat deur kliere aan die onderkant van hulle agterlyf afgeskei word. Die heuningkoek word as ’n ingenieurswonder beskou. Waarom?

Dink hieraan: Wiskundiges het eeue lank vermoed dat ’n ruimte ten beste benut kan word en met die minste boumateriaal afgeskort kan word as dit in seshoeke eerder as gelyksydige driehoeke of vierkante—of enige ander vorm—verdeel word. Maar hulle kon nie verduidelik waarom nie. In 1999 het professor Thomas C. Hales wiskundige bewyse voorsien vir die voordele wat dit inhou om ’n ruimte in seshoeke te verdeel. Hy het dit “die heuningkoek hipotese” genoem. Hy het getoon dat die beste manier om ’n ruimte in gelyke dele te verdeel, en terselfdertyd minimale strukturele ondersteuning te gebruik, is om dit in reëlmatige seshoeke te verdeel.

Deur seshoekige selle te bou, kan bye al die beskikbare ruimte vul, ’n ligte maar stewige heuningkoek met die minste hoeveelheid was bou en die maksimum hoeveelheid heuning in ’n ruimte stoor. Dit is nie verbasend dat die heuningkoek al as “’n meesterstuk van ontwerp” beskryf is nie.

Vandag boots wetenskaplikes die heuningkoek van die by na om dinge te bou wat stewig is en waarin die beskikbare ruimte doeltreffend gebruik word. Byvoorbeeld, vliegtuigingenieurs boots die heuningkoek na om panele te maak wat hulle gebruik in die bou van vliegtuie wat sterker en ligter is en dus minder brandstof gebruik.

Wat dink jy? Het die struktuur van die heuningkoek deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?