Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

As jy weet wie jy is, sal jy deur enige storm jou man kan staan

VIR JONGMENSE

9: Identiteit

9: Identiteit

WAT DIT BETEKEN

Jou identiteit, of wie jy is, is meer as net jou naam en hoe jy lyk. Dit is ook jou standaarde, persoonlikheid en die dinge waarin jy glo. Met ander woorde, jou identiteit is wie of wat jy binne en buite is.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

As jy weet wie jy is, sal jy opstaan vir dit waarin jy glo. En jy sal nie toelaat dat jou vriende jou beheer nie.

“Baie mense is soos daai poppe wat jy in die winkelvenster sien. Hulle kies nie self die klere wat hulle dra nie, ander mense kies dit vir hulle.” — Adrian.

“Ek het geleer hoe om op te staan vir wat reg is, selfs al is dit moeilik. En my regte vriende respekteer my standaarde, en dit help my om gemaklik om hulle te voel.” — Courtney.

BYBELWAARHEID: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm.” — Romeine 12:2.

WAT JY KAN DOEN

Dink aan die tipe mens wat jy nou is en aan die tipe mens wat jy graag wil wees. Dink aan jou sterk punte, jou swak punte en dit waarin jy glo. Die volgende vrae kan jou hiermee help:

Sterk punte: Watter talente het ek? Wat is my sterk punte? (Byvoorbeeld: Is ek altyd op tyd? Het ek selfbeheersing? Werk ek hard? Hou ek daarvan om te gee?) Watter dinge doen en sê ek wat goed is?

PROBEER DIE VOLGENDE: Sukkel jy om goeie dinge in jouself raak te sien? Dalk kan jy jou ouers of ’n goeie vriend vra om vir jou te sê watter sterk punte hulle in jou sien.

BYBELWAARHEID: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.” — Galasiërs 6:4.

Swak punte: Watter deel van my persoonlikheid het ’n bietjie aandag nodig? Wanneer is ek geneig om die verkeerde ding te wil doen? Wanneer het ek meer selfbeheersing nodig?

BYBELWAARHEID: “As ons die bewering maak: ‘Ons het geen sonde nie’, mislei ons onsself.” — 1 Johannes 1:8.

Waarin ek glo: Wat is my standaarde, en hoekom? Glo ek aan God? Hoe weet ek dat hy regtig bestaan? Watter dinge is vir my onaanvaarbaar, en hoekom? Wat glo ek gaan in die toekoms gebeur?

BYBELWAARHEID: ‘Denkvermoë sal oor jou wag hou, onderskeidingsvermoë sal jou beveilig.’ — Spreuke 2:11.