Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om verandering te hanteer

Hoe om verandering te hanteer

DIE UITDAGING

  • Jou gesin moet trek as gevolg van jou pa se werk.

  • Jou beste vriend trek ver weg.

  • Jou ouer broer of suster verlaat die huis om te trou.

Hoe goed sou jy by sulke veranderinge aanpas?

Dit is waarskynliker dat ’n boom wat saam met die wind kan buig, ’n storm sal oorleef. Soos hierdie boom kan jy leer om saam met veranderinge waaroor jy min of geen beheer het nie, te “buig”. Maar voordat ons bespreek hoe jy dit kan doen, kom ons kyk na ’n paar dinge wat jy oor verandering moet weet.

WAT JY MOET WEET

Verandering is onvermydelik. Die Bybel noem ’n belangrike waarheid oor mense: “Onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11). Vroeër of later sal hierdie woorde in jou geval waar word. Maar nie alle onvoorsiene gebeurtenisse is sleg nie. En party veranderinge wat aan die begin sleg lyk, kan op die ou end goed wees vir jou. Die meeste mense floreer egter wanneer hulle ’n roetine het, terwyl verandering—hetsy dit goed of sleg is—vir hulle moeilik is om te hanteer.

Verandering kan veral vir jongmense stresvol wees. Hoekom? “Jy ondervind reeds innerlike veranderinge”, verduidelik ’n jong man met die naam Alex. * “Uiterlike veranderinge maak dit net erger.”

Hier is nog ’n rede: Wanneer volwassenes ’n verandering ondervind, kan hulle persoonlike ondervindinge gebruik om te sien hoe hulle soortgelyke situasies in die verlede hanteer het. Maar jongmense het minder ondervinding waaruit hulle kan leer.

Jy kan leer om aan te pas. Veerkragtigheid is die vermoë om te herstel van ’n slegte situasie of om aan te pas by verandering. Iemand wat veerkragtig is, of hom nie gou laat onderkry nie, kan nuwe omstandighede nie net verduur nie, maar kan ook na iets kyk wat lyk soos ’n struikelblok en die goeie daarin sien. Tieners wat hulle nie gou laat onderkry nie, is minder geneig om dwelms of alkohol te gebruik wanneer hulle oorweldig is.

WAT JY KAN DOEN

Aanvaar die werklikheid. Dit is natuurlik om heeltemal in beheer van jou lewe te wil wees, maar dit is eenvoudig nie moontlik nie. Vriende sal wegtrek of trou; broers en susters sal grootword en die huis verlaat; omstandighede kan jou gesin dwing om te trek, en dan moet jy vriende agterlaat, en alles wat bekend is. Dit is beter om die werklikheid te aanvaar as om toe te laat dat negatiewe gedagtes jou oorweldig.—Bybelbeginsel: Prediker 7:10.

Fokus op die toekoms. Om op die verlede te fokus is soos om op ’n hoofweg te ry en heeltyd in die truspieël te kyk. Dit is goed om nou en dan daarin te kyk, maar jy moet eintlik op die pad voor jou konsentreer. Dit is ook die geval wanneer jy verandering ondervind. Probeer om jou oë gefokus te hou op die toekoms (Spreuke 4:25). Watter doelwit kan jy byvoorbeeld vir die volgende maand of vir die volgende ses maande stel?

Fokus op die positiewe. “Veerkragtigheid gaan oor jou gesindheid”, sê ’n jong vrou met die naam Laura. “Vind positiewe aspekte van die omstandighede waarin jy is.” Kan jy ten minste een voordeel van jou nuwe omstandighede noem?—Bybelbeginsel: Prediker 6:9.

’n Jong vrou met die naam Victoria onthou dat al haar goeie vriende weggetrek het toe sy ’n tiener was. “Ek het so eensaam gevoel en het gewens dat alles dieselfde kon bly”, sê sy. “Maar as ek terugdink, kan ek sien dat dit eintlik die tyd was toe ek begin groei het. Ek het besef dat verandering nodig is as jy wil groei. En ek het ook besef dat daar baie ander mense rondom my was met wie ek vriende kon maak.”—Bybelbeginsel: Spreuke 27:10.

Om op die verlede te fokus is soos om op ’n hoofweg te ry en heeltyd in die truspieël te kyk

Doen dinge vir ander. Die Bybel sê: “Julle [moet] nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). ’n Goeie manier om jou eie uitdaging te hanteer, is om ander met hulle s’n te help. Die 17-jarige Anna sê: “Toe ek ouer word, het ek besef dat dit seëninge meebring wanneer ek iemand help wat dalk ’n soortgelyke—of ’n erger—situasie deurmaak!”

^ par. 11 Party name in hierdie artikel is verander.