Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat kan ek doen om nie so negatief te wees nie?

Wat kan ek doen om nie so negatief te wees nie?

 Watter soort persoon is jy?

  •   Positief

     “Ek probeer om so gelukkig as moontlik te wees en om kalm te bly. Dis tog baie beter om elke dag te glimlag.” – Valerie.

  •   Negatief

     “As enigiets positiefs gebeur, dink ek dadelik dat iets fout is, dat dit te goed is om waar te wees.” – Rebecca.

  •   Realisties

     “As jy positief is, kan jy maklik teleurgestel word, en as jy negatief is, is jy heeltyd net mislik. Om realisties te wees, help my om dinge te sien soos dit regtig is.” – Anna.

 Hoekom maak dit saak?

 Die Bybel sê: “Wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spreuke 15:15). Dit is duidelik dat mense wat positief oor die lewe is en nie net die heeltyd negatief dink nie, gewoonlik gelukkiger is. Hulle maak ook makliker vriende. Wie wil in elk geval vriende wees met iemand wat altyd mislik is?

 Maar selfs al is jy ’n baie positiewe mens, kan daar nog steeds dinge in jou lewe gebeur wat moeilik is om te hanteer. Byvoorbeeld:

  •   In die nuus is daar die heeltyd berigte van oorlog, terrorisme of misdaad.

  •   Dalk het jy familieprobleme.

  •   Jy sukkel heel moontlik met jou eie swakhede.

  •   ’n Vriend het dalk jou gevoelens seergemaak.

 Probeer om realisties na hierdie soort probleme te kyk eerder as om dit te ignoreer of om die heeltyd daaroor te dink. As jy realisties is, sal dit jou help om nie te negatief te wees nie en om dinge in die lewe te aanvaar sonder dat dit jou moedeloos maak.

Jy kan die storms van die lewe hanteer met die vertroue dat die son weer sal skyn

 Wat jy kan doen

  •   Wees realisties oor jou swakhede.

     Die Bybel sê: “Daar is niemand op die aarde wat altyd doen wat reg is en wat nooit ’n fout maak nie” (Prediker 7:20, Good News Translation). Die feit dat jy swakhede het en foute maak, maak nie van jou ’n flop in die lewe nie. Dit is menslik om foute te maak.

     Hoe om realisties te wees: Werk aan jou swakhede, maar onthou dat jy nie volmaak is nie. ’n Jong man met die naam Caleb sê: “Ek dwing myself om nie te veel oor my swakhede te stres nie. Ek probeer eerder daaruit leer sodat ek beter kan doen.”

  •   Moenie jouself met ander vergelyk nie.

     Die Bybel sê: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Galasiërs 5:26). Dit kan jou kwaad en teleurgestel laat voel as jy na foto’s op sosiale media kyk en sien hoe ander sonder jou lekker saam gekuier het. Dit kan jou laat dink dat jou beste vriende eintlik glad nie jou vriende is nie.

     Hoe om realisties te wees: Aanvaar dat jy nie altyd genooi sal word nie. En wat jy op sosiale media sien, vertel nie die hele storie nie. ’n Tiener met die naam Alexis sê: “Op sosiale media sien jy baie keer net die lekker dinge in iemand se lewe. Jy sien nie die vervelige dele nie.”

  •   Probeer om altyd vrede te maak – veral in jou gesin.

     Die Bybel sê: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam” (Romeine 12:18). Jy kan nie beheer wat ander mense gaan doen nie, maar jy kan jou eie reaksie beheer. Jy kan kies om vrede te maak.

     Hoe om realisties te wees: Wees vasbeslote om nie dinge in jou gesin erger te maak nie, maar maak liewer vrede soos jy met jou vriende sal maak. ’n Tiener met die naam Melinda sê: “Niemand is perfek nie, en ons almal gaan nou en dan op mekaar se tone trap. Ons moet net besluit hoe ons gaan reageer – gaan ons vrede maak of nie.”

  •   Wees dankbaar.

     Die Bybel sê: “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). As jy dankbaar is, kan jy fokus op die goeie dinge in jou lewe eerder as op alles wat lyk asof dit verkeerd gaan.

     Hoe om realisties te wees: Erken dat jy probleme het, maar moenie blind wees vir die goeie dinge in jou lewe nie. ’n Jong vrou met die naam Rebecca sê: “Elke dag skryf ek een positiewe ding in my dagboek. Ek wil altyd onthou dat ek oor die algemeen positiewe dinge het om oor te dink.”

  •   Wie is jou vriende?

     Die Bybel sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Wanneer jy tyd met mense spandeer wat krities, baie sarkasties of bitter is, sal hulle negatiewe houding jou beïnvloed.

     Hoe om realisties te wees: Jou vriende sal af en toe deur moeilike tye gaan, en dit kan hulle negatief oor die lewe maak. Ondersteun hulle, maar moenie deur hulle probleme ingesluk word nie. ’n Tiener met die naam Michelle sê: “Ons moenie net tyd spandeer met mense wat negatief is nie. As jy in wiskunde twee negatiewe getalle bymekaartel, is dit gelyk aan ’n negatiewe getal wat nog groter is.”

 Lees meer daaroor

 Die Bybel sê ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Is dit vir jou moeilik om positief te wees in ’n wêreld wat so negatief is? Lees “Hoekom is daar soveel pyn en lyding?