Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek puberteit hanteer?

Hoe kan ek puberteit hanteer?

 “Puberteit is nie pret vir meisies nie. Dis pynlik, dis morsig, dis verwarrend​—alles daaromtrent is sleg!”​—Oksana.

 “Een oomblik was ek gelukkig en die volgende oomblik hartseer. Ek weet nie of dit normaal is vir ouens nie, maar dit het met my gebeur.”​—Brian.

 Puberteit kan soos ’n rit op ’n tuimeltrein (roller-coaster) wees—opwindend en terselfdertyd skrikwekkend! Hoe kan jy die voor- en nadele hanteer?

 Wat is puberteit?

 Eenvoudig gestel, puberteit is ’n stadium van jou lewe waarin jy fisies en emosioneel baie vinnig op pad is na volwassenheid. Gedurende hierdie stadium van jou lewe ondergaan jou liggaam vinnig fisiese en hormoonveranderinge, wat jou voorberei vir voortplanting en geboorte.

 Nee, dit beteken nie dat jy al gereed is om ’n ouer te word nie. Maar puberteit is wel ’n teken dat jy jou kinderlewe agterlaat​—’n feit wat gevoelens van afwagting sowel as hartseer by jou kan wek.

 Vraag: Wat sou jy sê is ’n normale ouderdom vir puberteit om te begin?

  • 8

  • 9

  • 10

  • 11

  • 12

  • 13

  • 14

  • 15

  • 16

 Antwoord: Dit is normaal vir puberteit om op enige van hierdie ouderdomme te begin.

 Dit beteken dat jy jou nie te veel hoef te bekommer as jy al amper in jou middeltienerjare is en jy nog nie puberteit bereik het nie—of as jy jonger as tien is en jy dit wel al bereik het. Puberteit volg sy eie biologiese rooster wat meestal buite jou beheer is.

Puberteit kan, net soos ’n rit op ’n tuimeltrein, opwindend sowel as skrikwekkend wees—maar jy kan leer om die uitdagings te hanteer

 Fisiese veranderinge

 Die duidelikste verandering tydens puberteit is dalk die feit dat jy skielik vinnig groei. Die probleem is dat nie al jou liggaamsdele ewe vinnig groei nie. Moet dus nie verbaas wees as jy ’n bietjie lomp is wanneer jy rondbeweeg nie. Wees verseker dat dinge mettertyd wel sal regkom.

 ’n Aantal ander fisiese veranderinge vind plaas tydens puberteit.

 Puberteit in seuns:

  •   Geslagsorgane word groter

  •   Hare groei onder die arms, rondom die geslagsdele en op die gesig

  •   Stem verander

  •   Onwillekeurige ereksies en nagtelike saadstortings

 Puberteit in meisies:

  •   Borste ontwikkel

  •   Hare groei onder die arms en rondom die geslagsdele

  •   Begin menstrueer

 Puberteit in albei geslagte:

  •   Liggaamsreuke as gevolg van ’n kombinasie van sweet en bakterieë

     Wenk: Jy kan liggaamsreuke beheer deur gereeld te bad of te stort en ’n reuk- of sweetweerder te gebruik.

  •   Aknee, wat veroorsaak word deur bakterieë in oliekliere

     Wenk: Hoewel aknee nie maklik is om te beheer nie, kan dit help as jy jou gesig gereeld was en velreinigers gebruik.

 Emosionele veranderinge

 Die toename in hormone wat die fisiese veranderinge van puberteit veroorsaak, kan ’n slegte uitwerking op jou emosies hê. Moontlik word jy selfs baie buierig.

 “Die een dag huil jy, en die volgende dag voel jy oukei. Een oomblik is jy kwaad en die volgende oomblik kruip jy terneergedruk in jou kamer weg.”—Oksana.

 Baie jongmense voel ook baie selfbewus tydens puberteit, asof almal hulle dophou en oordeel. En die feit dat jou voorkoms so dramaties verander, help nie veel nie!

 “Toe ek begin langer word, het ek doelbewus vooroor geloop en groot hemde gedra. Al het ek geweet waarom my liggaam besig was om te verander, was ek baie ongemaklik en skaam. Dit het onnatuurlik gevoel.”—Janice.

 Die grootste emosionele verandering wat jy moontlik sal ervaar, is die feit dat jy ’n hele nuwe beskouing van die teenoorgestelde geslag gekry het.

 “Ek het nie meer gedink dat alle seuns irriterend is nie. Nou was party van hulle nogal aantreklik en die idee van verliefdheid was glad nie meer so sleg nie. ‘Wie hou van wie’ het eintlik ’n gewilde onderwerp van gesprekke geword.”—Alexis.

 Gedurende puberteit voel party jongmense aangetrokke tot lede van dieselfde geslag. As dit met jou gebeur, moet jy nie tot die slotsom kom dat jy gay is nie. In baie gevalle verdwyn sulke gevoelens mettertyd.

 “Omdat ek myself die hele tyd met ander seuns vergelyk het, het ek aangetrokke tot hulle begin voel. Ek het eers later tot vrouens aangetrokke begin voel. Homoseksuele gevoelens is nou net ’n deel van my verlede.”—Alan.

 Wat jy kan doen

  •    Probeer positief wees. Puberteit is eintlik ’n fisiese en emosionele verandering wat jy nodig het. Die volgende woorde van die psalmis Dawid kan jou hiervan oortuig: “Op ’n vreesinboesemende wyse [is ek] wonderbaar gemaak.”—Psalm 139:14.

  •    Moet jou nie met ander vergelyk nie en weerstaan die drang om op jou voorkoms te fokus. Die Bybel sê: “Die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.”—1 Samuel 16:7.

  •    Kry genoeg oefening en rus. Genoeg slaap sal jou help om minder geïrriteerd, gestres en terneergedruk te wees wanneer jy wakker is.

  •    Moenie alle negatiewe gevoelens wat jy oor jouself het, aanvaar nie. Hou almal jou regtig so fyn dop? Al sê mense ook iets oor jou ontwikkeling, moet jy die regte beskouing behou. Die Bybel sê: “Moet ook nie jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie.”—Prediker 7:21.

  •    Leer hoe om jou seksuele begeertes te beheer sodat jy nie daarop reageer nie. Die Bybel sê: “Vlug vir die hoerery. ... Hy wat hoerery beoefen, sondig teen sy eie liggaam.”—1 Korintiërs 6:18.

  •    Praat met een van jou ouers of ’n volwassene wat jy vertrou. Jy sal dalk aan die begin ongemaklik voel. Maar die hulp wat jy kan ontvang, sal dit die moeite werd maak.—Spreuke 17:17.

 Die slotsom: Puberteit het uitdagings. Dit bied jou ook ’n wonderlike geleentheid om te groei—nie net fisies nie, maar ook verstandelik, emosioneel en geestelik.—1 Samuel 2:26.