Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Leer jou kind oor seks

Leer jou kind oor seks

DIE UITDAGING

Net ’n paar dekades gelede het ouers ten minste ’n goeie kans gehad om voor enigiemand anders met hulle seun of dogter oor seks te praat. En hulle kon dinge geleidelik verduidelik, volgens die kind se ouderdom en behoefte.

Dit is nie nou meer die geval nie. “Kinders word op ’n al hoe jonger ouderdom blootgestel aan seksuele boodskappe, en media vir kinders bevat al hoe meer seksuele materiaal”, sê die boek The Lolita Effect. Vind kinders hierby baat of is dit vir hulle skadelik?

WAT JY MOET WEET

Eksplisiete materiaal is oral. In haar boek Talk to Me First, skryf Deborah Roffman dat “gesprekke, advertensies, rolprente, boeke, lirieke, TV-programme, teksboodskappe, speletjies, advertensieborde en foon- en rekenaarskerms so deurtrek is van seksuele beelde, taal en insinuasies dat baie [tieners en selfs jong kinders] heel moontlik, en selfs onbewustelik, tot die gevolgtrekking moet kom dat seks . . . die allerbelangrikste ding moet wees”.

Bemarking is gedeeltelik verantwoordelik. Adverteerders en verkopers bemark seksueel prikkelende klere vir kinders wat hulle van ’n jong ouderdom af leer om te veel klem op hulle voorkoms te plaas. “Bemarkers weet wat kinders se swakhede is en hulle buit dit uit”, sê die boek So Sexy So Soon. “Al hierdie seksuele beelde en produkte is nie bedoel om seks vir kinders aanloklik te maak nie.” Dit is eerder bedoel om hulle “aan die koop te kry”.

Inligting is nie genoeg nie. Daar is ’n verskil tussen iemand wat weet hoe ’n motor werk en iemand wat ’n verantwoordelike bestuurder is. Net so is daar ’n verskil tussen iemand wat kennis van seks het en iemand wat daardie kennis gebruik om wyse besluite te neem.

Die slotsom: Jy moet jou kinders, vandag meer as ooit tevore, help om hulle “waarnemingsvermoëns” te oefen sodat hulle kan “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.

WAT JY KAN DOEN

Raak betrokke. Ongeag hoe ongemaklik dit ook al is, dit is jou verantwoordelikheid om met jou kinders oor seks te praat. Aanvaar dit.—Bybelbeginsel: Spreuke 22:6.

Hou kort besprekings. Moenie een lang bespreking oor seks hê nie. Maak eerder gebruik van tye wanneer julle ontspanne is om daaroor te gesels, dalk terwyl julle twee saam iewers heen ry of ’n huistakie doen. Jy kan beskouingsvrae vra om jou kind te help om openlik te gesels. Byvoorbeeld, pleks daarvan om te sê: “Hou jy van sulke advertensies? kan jy sê: “Waarom dink jy gebruik adverteerders hierdie soort beelde om produkte te verkoop?” Nadat jou kind geantwoord het, kan jy vra: “Hoe voel jy daaroor?”—Bybelbeginsel: Deuteronomium 6:6, 7

Neem jou kind se ouderdom in ag. Kinders wat nog nie skoolgaan nie, kan die regte name van geslagsorgane geleer word, sowel as hoe om hulle teen seksuele uitbuiters te beskerm. Namate jou kinders groter word, kan jy vir hulle al hoe meer basiese feite oor voortplanting vertel. Teen die tyd dat hulle puberteit bereik, moet hulle die fisiese en morele aspekte van seks beter begin verstaan.

Leer jou kinders waardes. Jy moet jou kind van kleins af leer om eerlik, beginselvas en respekvol te wees. Dan, wanneer jy wel oor seks praat, het jy ’n grondslag om op te bou. En sê duidelik wat jou waardes is. Byvoorbeeld, as jy meen dat seks voor die huwelik verkeerd is, sê dit. En verduidelik waarom dit verkeerd en skadelik is. “Tieners wat sê dat hulle weet dat hulle ouers gekant is teen tienerseks, sal minder geneig wees om seks te hê”, sê die boek Beyond the Big Talk.

Stel die voorbeeld. Lewe volgens die waardes wat jy hulle leer. Byvoorbeeld, lag jy vir vuil grappies? Dra jy verleidelike klere? Flirt jy? Sulke gedrag kan die sedelike waardes ondermyn wat jy jou kinders probeer leer.—Bybelbeginsel: Romeine 2:21.

Hou dit positief. Seks is ’n gawe van God, en onder die regte omstandighede—die huwelik—kan dit ’n bron van groot genot wees (Spreuke 5:18, 19). Sê vir jou kind dat hy of sy hierdie gawe ook mettertyd kan geniet, maar sonder die hartseer en kommer wat voorhuwelikse seks meebring.—1 Timoteus 1:18, 19.