Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutels tot gesinsgeluk

Skerp sedelike waardes by jou kinders in

Skerp sedelike waardes by jou kinders in

Loida, a ’n ma in Mexiko, sê: “Kondome word by die skool uitgedeel, en daarom dink tieners dat daar niks mee fout is om seks te hê nie—solank dit ‘veilige’ seks is.”

Noboeko, ’n ma in Japan, sê: “Ek het my seun gevra wat hy sal doen as hy en sy meisie alleen is. Hy het geantwoord: ‘Ek weet nie.’”

HET jy seker gemaak dat jou huis kinderveilig is toe jou seun of dogter ’n kleuter was? Miskien het jy kragpunte toegemaak, skerp voorwerpe weggepak en trappe versper—alles in ’n poging om jou kind te beskerm.

As dit tog net so maklik was om jou tiener te beskerm! Nou het jy groter bekommernisse, soos: ‘Kyk my seun na pornografie?’ ‘Is my dogter besig met sexting, dit wil sê, stuur sy suggestiewe foto’s van haarself deur middel van haar selfoon?’ En die vraag waarvoor elke ouer bang is: ‘Is my tiener seksueel aktief?’

Die illusie van beheer

Party ouers probeer om 24 uur per dag oor hulle tieners se skouer te kyk en elke beweging te monitor. Baie van hierdie ouers kom later agter dat hulle tiener, omdat hy so dopgehou is, dinge in die geheim begin doen het. Hulle seun of dogter het geleer hoe om die einste gedrag wat die ouers probeer voorkom het, goed weg te steek.

Dit is duidelik dat beheer nie die antwoord is nie. Jehovah God gebruik nie hierdie metode om sy skepsele te kry om gehoorsaam te wees nie, en jy as ouer moet ook nie (Deuteronomium 30:19). Hoe kan jy dus jou tieners help om wyse sedelike besluite te neem?—Spreuke 27:11.

’n Basiese maatreël is om gereelde gesprekke met jou kinders te hê en om te begin terwyl hulle nog jonk is (Spreuke 22:6). b Dan, wanneer hulle adolessensie bereik, moet jy aanhou praat. Jy as ouer moet jou tiener se hoofbron van betroubare inligting wees. “Baie mense dink dat ons eerder met ons vriende oor seks wil praat”, sê Alicia, ’n meisie in Brittanje, “maar dis nie waar nie. Ons waardeer dit wanneer hierdie inligting van ons ouers af kom. Ons vertrou wat hulle vir ons sê.”

Goeie waardes is nodig

Namate jou kinders grootword, moet hulle meer oor seks weet as net waar babas vandaan kom. Hulle moet ook hulle ‘waarnemingsvermoëns deur gebruik oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Kortom, hulle het waardes nodig—’n sedelike gedragskode wat uit vaste oortuigings oor seks bestaan—tesame met gedrag wat met hierdie oortuigings strook. Hoe kan jy goeie waardes by jou tiener inskerp?

Begin deur na jou eie waardes te kyk. Jy glo byvoorbeeld dalk dat hoerery—seks tussen ongetroude persone—verkeerd is (1 Tessalonisense 4:3). Jou kinders weet waarskynlik hoe jy hieroor voel; dalk kan hulle selfs Bybelverse aanhaal wat jou oortuigings staaf. Wanneer hulle gevra word, antwoord hulle dalk geredelik dat voorhuwelikse seks verkeerd is.

Meer is egter nodig. Volgens die boek Sex Smart stem party jongmense moontlik op die oog af met hulle ouers se oortuigings oor seks saam. Die boek verduidelik: “Hulle voel te onseker om hulle eie opinies te vorm. Wanneer hulle in ’n onverwagse situasie beland en voor ’n onmiddellike dilemma te staan kom waar hulle moet besluit oor ‘hoe ver om te gaan’, voel hulle verward en is hulle in groot moeilikheid.” Dit is presies hoekom waardes noodsaaklik is. Hoe kan jy waardes by jou tiener inskerp?

Maak duidelik wat jou waardes is.

Glo jy dat seks slegs in die huwelik hoort? Sê dit dan vir jou tiener, duidelik en dikwels. Volgens die boek Beyond the Big Talk toon navorsing dat “tieners wie se ouers hulle duidelik laat verstaan dat hulle seks tussen tieners afkeur, waarskynlik langer sal wag voordat hulle seksueel aktief word”.

Soos vroeër gemeld is, sal die feit dat jy jou seun of dogter van jou waardes vertel natuurlik nie waarborg dat hy of sy sal besluit om daarvolgens te lewe nie. Maar gesonde gesinswaardes sal ’n grondslag voorsien waarop kinders hulle eie waardes kan baseer. En in studies is daar bevind dat baie jongmense op die ou end wel hulle ouers se waardes aanneem, al lyk dit asof die kinders dit gedurende hulle tienerjare opsygeskuif het.

PROBEER DIE VOLGENDE: Gebruik ’n gebeurtenis in die nuus om ’n gesprek te begin en oor jou waardes te praat. As daar byvoorbeeld ’n berig oor ’n seksuele misdaad was, kan jy sê: “Dit is verskriklik hoe party mans vroue probeer misbruik. Waar dink jy kom hulle aan sulke idees?”

Leer hulle die volle waarheid oor seks.

Waarskuwings is noodsaaklik (1 Korintiërs 6:18; Jakobus 1:14, 15). Maar die Bybel beeld seks hoofsaaklik uit as ’n gawe van God, nie ’n strik van Satan nie (Spreuke 5:18, 19; Hooglied 1:2). As jy jou tieners slegs van die gevare vertel, kan dit hulle ’n verwronge en onskriftuurlike beskouing van die onderwerp gee. “My ouers het baie klem gelê op geslagsonsedelikheid”, sê ’n jong vrou in Frankryk met die naam Corrina, “en dit het my ’n negatiewe beskouing van seks gegee.”

Maak seker dat jou kinders die volle waarheid oor seks verstaan. “Wat ek my tieners altyd probeer leer het”, sê ’n ma in Mexiko met die naam Nadia, “is dat seks pragtig en natuurlik is en dat Jehovah God dit aan mense gegee het om te geniet. Maar dit hoort slegs in die huwelik. Dit kan vir ons geluk of lyding meebring, afhangende van hoe ons dit gebruik.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Beëindig die gesprek met ’n positiewe gedagte wanneer jy weer met jou tiener oor seks praat. Moenie bang wees om seks uit te beeld as ’n wonderlike gawe van God nie wat jou kind in die toekoms as ’n getroude persoon kan geniet. Laat jou tiener weet dat jy die vertroue het dat hy of sy tot daardie tyd by God se standaarde kan bly.

Help jou tiener om oor die gevolge na te dink.

Om in enige aspek van die lewe goeie besluite te kan neem, moet tieners weet hoe om die opsies te identifiseer en die voordele en nadele van elke opsie op te weeg. Moenie dink dat dit genoeg is as hulle net weet wat reg en wat verkeerd is nie. “Wanneer ek terugdink aan die foute wat ek gemaak het toe ek jonk was”, sê ’n Christenvrou in Australië met die naam Emma, “kan ek sê dat blote kennis van God se standaarde nie beteken dat jy daarmee saamstem nie. Dit is noodsaaklik om te verstaan hoe hierdie standaarde jou tot voordeel strek—en watter gevolge dit meebring as jy dit verontagsaam.”

Die Bybel kan help, want baie van die gebooie daarin word versterk deur frases wat die gevolge van oortreding uiteensit. Spreuke 5:8, 9 spoor jong mans byvoorbeeld aan om hoerery te vermy “sodat jy nie jou waardigheid aan ander gee nie”. Soos hierdie verse toon, gee diegene wat hulle aan voorhuwelikse seks skuldig maak, ’n mate van hulle karakter, onkreukbaarheid en selfrespek prys. En dit maak hulle baie minder aantreklik vir enige potensiële huweliksmaat wat wel hierdie eienskappe het. As jou tiener nadink oor die fisiese, emosionele en geestelike gevare wat dit inhou om God se wette te verontagsaam, kan dit hom of haar meer vasbeslote maak om daarvolgens te lewe. c

PROBEER DIE VOLGENDE: Gebruik illustrasies om jou tiener die wysheid van God se standaarde te help besef. Jy kan byvoorbeeld sê: “’n Kampvuur is goed, maar ’n bosbrand is sleg. Wat is die verskil tussen die twee, en hoe kan jy dit toepas op die grense wat God in verband met seks gestel het?” Gebruik die verslag in Spreuke 5:3-14 om jou tiener te help verstaan wat die nadelige gevolge van hoerery is.

Takao, ’n 18-jarige in Japan, sê: “Ek weet dat ek moet doen wat reg is, maar ek moet gedurig stry teen die begeertes van die vlees.” Jongmense wat so voel, kan vertroosting put uit die feit dat hulle nie alleen is nie. Selfs die apostel Paulus—’n getroue Christen—het erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig.”—Romeine 7:21.

Dit sal tieners help as hulle besef dat so ’n stryd nie altyd sleg is nie. Dit kan hulle laat nadink oor presies watter soort persoon hulle graag wil word. Dit kan hulle ook help om na te dink oor die vraag: ‘Wil ek in beheer wees van my lewe en bekend staan as iemand met karakter en onkreukbaarheid, of wil ek bekend wees as ’n naloper—’n swak persoon wat aan sy begeertes toegee?’ Goeie sedelike waardes sal jou tiener help om hierdie vraag op ’n verstandige manier te beantwoord.

a Party name in hierdie artikel is verander.

b Vir voorstelle oor hoe om ’n gesprek oor seks met jou kinders te begin en hoe om inligting vir hulle te gee wat gepas is vir hulle ouderdom, sien Die Wagtoring van 1 November 2010, bladsye 12-14.

c Vir meer inligting, sien die artikel “Jongmense vra . . . Sal seks ons verhouding verbeter?” in die Ontwaak! van April 2010, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU AF . . .

  • Watter aanduidings het ek dat my tiener sterk sedelike waardes het?

  • Beeld ek seks hoofsaaklik uit as ’n gawe van God of as ’n strik van Satan wanneer ek met my tiener oor seks praat?