Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aanvaar dankbaar—Gee heelhartig

Aanvaar dankbaar—Gee heelhartig

Aanvaar dankbaarGee heelhartig

JEHOVAH, ons liefdevolle hemelse Vader, is besorg oor elkeen van ons. God se Woord verseker ons dat hy diep besorg is oor al sy knegte (1 Pet. 5:7). Een manier waarop Jehovah sy besorgdheid toon, is deur ons op verskeie maniere te help sodat ons hom getrou kan dien (Jes. 48:17). Veral wanneer ons voor kwellende probleme te staan kom, wil Jehovah hê dat ons gebruik moet maak van die hulp wat hy voorsien. Die Mosaïese Wet lig hierdie waarheid toe.

Onder die Wet het Jehovah liefdevolle hulp voorsien vir “die geteisterde”, soos die weeskind, die weduwee en die inwonende vreemdeling (Lev. 19:9, 10; Deut. 14:29). Hy weet dat party van sy knegte dalk hulp van hulle medeaanbidders sal nodig hê (Jak. 1:27). Daarom moet nie een van sy knegte teësinnig wees om hulp te aanvaar van dié wat deur Jehovah beweeg word om sulke hulp te gee nie. Wanneer ons hulp aanvaar, wil ons dit nietemin in die regte gees doen.

God se Woord beklemtoon terselfdertyd dat God se knegte ook die geleentheid het om te gee. Dink aan die verslag van die “behoeftige weduwee” wat Jesus by die tempel in Jerusalem gesien het (Luk. 21:1-4). Sy het waarskynlik baat gevind by Jehovah se liefdevolle voorsienings vir weduwees, wat in die Wet genoem is. Hoewel hierdie weduwee behoeftig was, word sy nogtans onthou, nie as iemand wat ontvang het nie, maar as iemand wat gegee het. Haar vrygewige gesindheid het haar ongetwyfeld gelukkig gemaak, want soos Jesus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Met hierdie waarheid in gedagte, hoe kan jy ‘altyddeur gee’ en as gevolg daarvan geluk ervaar?—Luk. 6:38.

“Wat sal ek Jehovah vergoed?”

Die psalmis het gewonder: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?” (Ps. 116:12). Watter voordele het hy ontvang? Jehovah het hom gedurende ’n tydperk van “benoudheid en droefheid” onderskraag. Wat meer is, Jehovah het sy “siel van die dood gered”. Nou wou hy Jehovah probeer “vergoed”. Wat kon die psalmis doen? Hy het gesê: “My geloftes sal ek aan Jehovah betaal” (Ps. 116:3, 4, 8, 10-14). Hy het hom voorgeneem om al sy plegtige beloftes aan Jehovah en al sy verpligtinge teenoor hom na te kom.

Jy kan dieselfde doen. Hoe? Deur ’n lewensweg te volg wat te alle tye aan God se wette en beginsels voldoen. Maak dus seker dat jou aanbidding van Jehovah die belangrikste ding in jou lewe bly en dat jy toelaat dat God se gees jou lei in alles wat jy doen (Pred. 12:13; Gal. 5:16-18). Jy kan Jehovah natuurlik nooit ten volle vergoed vir alles wat hy vir jou gedoen het nie. Nogtans ‘maak dit Jehovah se hart bly’ om te sien dat jy heelhartig van jouself gee in sy diens (Spr. 27:11). Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om Jehovah op hierdie manier te behaag!

Dra by tot die welsyn van die gemeente

Jy sal ongetwyfeld saamstem dat jy al in baie opsigte baat gevind het by die Christengemeente. Deur middel van die gemeente voorsien Jehovah ’n oorvloed geestelike voedsel. Jy het die waarheid ontvang wat jou vrygemaak het van godsdiensdwaling en geestelike duisternis (Joh. 8:32). By gemeentelike vergaderinge en byeenkomste wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gereël word, het jy kennis opgedoen wat tot die ewige lewe sonder pyn en lyding op ’n paradysaarde sal lei (Matt. 24:45-47). Kan jy al die seëninge selfs net begin opnoem wat jy deur God se gemeente ontvang het—en nog sal ontvang? Wat kan jy aan die gemeente teruggee?

Die apostel Paulus het geskryf dat “die hele liggaam die groei van die liggaam [bevorder] vir sy eie opbouing in liefde, deurdat dit harmonies saamgeheg is en tot samewerking gebring word deur middel van elke gewrig wat gee wat nodig is, volgens die werking van elke onderskeie lid in die regte mate” (Ef. 4:15, 16). Hoewel hierdie teks hoofsaaklik op die liggaam van gesalfde Christene betrekking het, kan die beginsel daarin op alle hedendaagse Christene toegepas word. Ja, elke lid van die gemeente kan tot die welsyn en groei daarvan bydra. In watter opsigte?

Ons kan dit doen deur daarna te streef om te alle tye ’n bron van aanmoediging en geestelike verkwikking vir ander te wees (Rom. 14:19). Ons kan ook tot “die groei van die liggaam” bydra deur die vrug van God se gees in al ons handelinge met medegelowiges aan te kweek (Gal. 5:22, 23). Verder kan ons ook soek na geleenthede om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Gal. 6:10; Heb. 13:16). Almal in die gemeente—broers en susters, jonk en oud—kan ’n aandeel daaraan hê om ‘die liggaam in liefde op te bou’.

Daarbenewens kan ons ons talente, energie en middele gebruik om deel te neem aan die lewensreddende werk wat die gemeente doen. “Julle het verniet ontvang”, het Jesus Christus gesê. Hoe moet ons reageer? “Verniet moet julle gee”, het hy gesê (Matt. 10:8). Doen derhalwe soveel moontlik in die lewensbelangrike Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matt. 24:14; 28:19, 20). Kan jy dalk net min doen? Dink aan die behoeftige weduwee wat Jesus beskryf het. Sy het baie min gegee. Tog het Jesus gesê dat sy meer as al die ander gedoen het. Sy het alles gegee wat haar omstandighede haar toegelaat het om te gee.—2 Kor. 8:1-5, 12.

Ontvang in die regte gees

Nogtans sal daar dalk tye wees dat jy hulp van die gemeente sal nodig hê. Moet nooit huiwer om enige hulp wat die gemeente kan gee, te aanvaar wanneer jy sukkel om die druk van hierdie stelsel die hoof te bied nie. Jehovah het bekwame en liefdevolle manne voorsien om “as herders toesig te hou oor die gemeente”—om jou te help wanneer jy beproewinge en verdrukkinge ondervind (Hand. 20:28). Ouer manne en ander in die gemeente wil jou graag gedurende moeilike tye vertroos, ondersteun en beskerm.—Gal. 6:2; 1 Tess. 5:14.

Maak egter seker dat jy die regte gees openbaar wanneer jy nodige hulp ontvang. Aanvaar die hulp wat jy ontvang, altyd met dankbaarheid. Beskou hierdie hulp van medegelowiges as ’n blyk van God se onverdiende goedhartigheid (1 Pet. 4:10). Waarom is dit belangrik? Omdat ons nie soos baie in die wêreld wil ontvang nie—sonder enige dankbaarheid.

Wees gebalanseerd en redelik

In sy brief aan die gemeente in Filippi het Paulus aangaande Timoteus geskryf: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie.” Maar toe het Paulus bygevoeg: “Al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (Fil. 2:20, 21). Hoe kan ons, met die oog op Paulus se ernstige waarneming, vandag voorkom dat ons te behep raak met ons “eie belange”?

Ons moet nooit veeleisend wees wanneer ons ander in die gemeente vra vir hulle tyd en aandag om ons met ons probleme te help nie. Waarom nie? Dink hieraan: Ons sal ongetwyfeld innig dankbaar wees as ’n broer ons materiële hulp gee om ons in ’n noodgeval te help. Maar sal ons ooit op sulke materiële hulp aandring? Natuurlik nie. Net so moet ons, hoewel ons broers altyd bly is om ons te help, gebalanseerd en redelik wees wanneer ons van hulle verwag om van hulle tyd aan ons af te staan. Wat medegelowiges ook al doen om ons te help om moeilike tye die hoof te bied, ons wil immers hê dat hulle dit gewillig moet doen.

Jou Christenbroers en -susters sal ongetwyfeld altyd gereed en bereid wees om jou by te staan. Maar soms sal hulle eenvoudig nie in staat wees om in al jou behoeftes te voorsien nie. As dit gebeur, kan jy seker wees dat Jehovah jou sal onderskraag, soos in die geval van die psalmis, ongeag voor watter beproewinge jy te staan kom.—Ps. 116:1, 2; Fil. 4:10-13.

Moet dus nooit huiwer om enige voorsienings wat Jehovah vir jou maak—veral in tye van benoudheid en probleme—dankbaar te aanvaar nie (Ps. 55:22). Hy wil hê dat jy dit moet doen. Maar hy wil ook hê dat jy “’n blymoedige gewer” moet wees. Neem jou dus ‘in jou hart voor’ om te gee wat jou omstandighede jou toelaat ter ondersteuning van ware aanbidding (2 Kor. 9:6, 7). Sodoende sal jy albei kan doen—jy sal dankbaar kan aanvaar en heelhartig kan gee.

[Venster/Prente op bladsy 31]

“Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?”—Ps. 116:12

▪ Skep geleenthede om “aan almal goed [te] doen”

▪ Wees ’n bron van aanmoediging en geestelike verkwikking vir ander

▪ Doen na gelang van jou omstandighede soveel moontlik in die dissipelmaakwerk