Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg jy die “allesoortreffende weg” van liefde?

Volg jy die “allesoortreffende weg” van liefde?

Volg jy die “allesoortreffende weg” van liefde?

“GOD is liefde.” Hierdie woorde van die apostel Johannes identifiseer God se oorheersende eienskap (1 Joh. 4:8). Dit is God se liefde vir die mensdom wat dit vir ons moontlik maak om nader aan hom te kom en ’n persoonlike verhouding met hom te hê. Op watter ander manier het God se liefde ’n uitwerking op ons? Daar is al gesê: “Ons word gevorm deur die dinge waarvoor ons lief is.” Dit is waar. Dit is egter ook waar dat ons gevorm word deur diegene vir wie ons lief is en diegene wat lief is vir ons. Aangesien ons na God se beeld geskep is, het ons die vermoë om God se liefde in ons lewe te weerspieël (Gen. 1:27). Die apostel Johannes het derhalwe geskryf dat ons God liefhet “omdat hy ons eerste liefgehad het”.—1 Joh. 4:19.

Vier woorde om liefde te beskryf

Die apostel Paulus het liefde die “allesoortreffende weg” genoem (1 Kor. 12:31). Waarom het hy liefde so beskryf? Na watter soort liefde het Paulus verwys? Om uit te vind, kom ons beskou die woord “liefde” van naderby.

Die eertydse Grieke het vier basiese woorde gehad, wat in verskillende vorme gebruik is, om liefde te beskryf: stor·geʹ, eʹros, fi·liʹa en a·gaʹpe. A·gaʹpe word gebruik om die God wat ‘liefde is’, te beskryf. a In sy boek New Testament Words sê professor William Barclay aangaande hierdie liefde: “Agapē het met die verstand te doen: dit is nie bloot ’n emosie wat ongevraagd in ons hart opkom nie; dit is ’n beginsel waarvolgens ons doelbewus lewe. Agapē het hoofsaaklik met die wil te doen.” In hierdie konteks is a·gaʹpe liefde wat deur beginsel gerig, of gelei, word, maar dit gaan dikwels gepaard met sterk emosie. Aangesien daar goeie en slegte beginsels is, is dit duidelik dat Christene gerig moet word deur goeie beginsels, wat deur Jehovah God self in die Bybel neergelê is. Wanneer ons Bybelse beskrywings van a·gaʹpe vergelyk met ander terme wat in die Bybel gebruik word om liefde te beskryf, sal ons die liefde wat ons moet toon, beter verstaan.

Liefde in die gesin

Hoe genotvol is dit tog om deel te wees van ’n liefdevolle, hegte gesin! Stor·geʹ was die Griekse woord wat dikwels gebruik is om te verwys na die natuurlike geneentheid wat tussen lede van dieselfde gesin bestaan. Christene streef daarna om liefde aan lede van hulle gesin te toon. Paulus het voorspel dat mense oor die algemeen in die laaste dae “sonder natuurlike geneentheid” sou wees. b2 Tim. 3:1, 3.

Die natuurlike liefde wat tussen gesinslede behoort te wees, ontbreek ongelukkig in vandag se wêreld. Waarom ondergaan soveel verwagtende moeders aborsies? Waarom toon so baie gesinne geen belangstelling in hulle bejaarde ouers nie? Waarom skiet die egskeidingsyfer steeds die hoogte in? Die antwoord is in werklikheid: ’n Gebrek aan natuurlike geneentheid.

Daarbenewens leer die Bybel: “Die hart is verraderliker as enigiets anders” (Jer. 17:9). Ons hart en ons gevoelens speel ’n rol in gesinsliefde. Maar interessant genoeg, Paulus het a·gaʹpe gebruik om die liefde te beskryf wat ’n man vir sy vrou moet toon. Paulus het hierdie liefde vergelyk met die liefde wat Christus vir die gemeente toon (Ef. 5:28, 29). Hierdie liefde is gebaseer op beginsels wat deur Jehovah, die Insteller van die gesinsreëling, neergelê is.

Opregte liefde vir gesinslede beweeg ons om belangstelling in ons bejaarde ouers te toon en beweeg ons om ons verantwoordelikheid teenoor ons kinders na te kom. Dit beweeg ouers ook om hulle kinders liefdevolle dissipline te gee wanneer dit nodig is en keer dat ouers hulle bloot deur sentiment laat lei, wat dikwels tot gevolg het dat ouers te toegeeflik is teenoor hulle kinders.—Ef. 6:1-4.

Romantiese liefde en Bybelbeginsels

Die fisiese liefde tussen ’n man en ’n vrou in die huweliksreëling is waarlik ’n gawe van God (Spr. 5:15-17). Maar die woord eʹros, wat na romantiese liefde verwys, word nie deur die geïnspireerde Bybelskrywers gebruik nie. Waarom nie? Die Wagtoring het ’n paar jaar gelede die volgende opmerking gemaak: “Dit wil voorkom of die hele wêreld vandag dieselfde fout maak as die eertydse Grieke. Hulle het Eros as ’n god aanbid, voor sy altaar neergebuig en offerandes aan hom gebring. . . . Maar die geskiedenis toon dat sulke aanbidding van seksuele liefde net verlaging, losbandigheid en verdorwenheid tot gevolg gehad het. Dalk is dit waarom die Bybelskrywers die woord glad nie gebruik het nie.” As ons nie betrokke wil raak by verhoudings wat net op fisieke aangetrokkenheid gebaseer is nie, moet romantiese gevoelens getemper, of beheers, word deur Bybelbeginsels. Vra jou dus af: ‘Word my romantiese gevoelens vir my maat met ware liefde in ewewig gehou?’

Gedurende “die bloei van die jeug”, wanneer seksuele drange dikwels baie sterk is, sal jongmense wat Bybelbeginsels volg, sedelik rein bly (1 Kor. 7:36; Kol. 3:5). Ons beskou die huwelik as ’n heilige gawe van Jehovah. Jesus het aangaande egpare gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Ons bly nie bymekaar net solank ons tot mekaar aangetrokke voel nie, maar is eerder toegewyd aan ons huwelik. Wanneer huweliksprobleme ontstaan, soek ons nie na ’n maklike uitweg nie, maar streef ons ywerig daarna om godvrugtige eienskappe aan die dag te lê om ons gesinslewe gelukkig te maak. Sulke pogings sal blywende geluk meebring.—Ef. 5:33; Heb. 13:4.

Liefde onder vriende

Die lewe sal vervelig wees sonder vriende! ’n Bybelspreuk sê: “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spr. 18:24). Jehovah wil hê dat ons ware vriende moet hê. Die hegte vriendskapsband tussen Dawid en Jonatan is welbekend (1 Sam. 18:1). En die Bybel sê dat Jesus “geneentheid gehad het” vir die apostel Johannes (Joh. 20:2). Die Griekse woord vir “geneentheid” of “vriendskap” is fi·liʹa. Daar is niks mee verkeerd om ’n hegte vriend in die gemeente te hê nie. Maar in 2 Petrus 1:7 word ons aangespoor om liefde (a·gaʹpe) te voeg by ons “broederlike geneentheid” (fi·la·del·fiʹa, ’n samestelling van fiʹlos, die Griekse woord vir “vriend”, en a·del·fosʹ, die Griekse woord vir “broer”). Om blywende vriendskappe te geniet, moet ons hierdie raad toepas. Ons kan ons gerus afvra: ‘Word my gevoelens van vriendskap in ewewig gehou met Bybelbeginsels?’

God se Woord help ons om partydigheid te vermy in ons handelinge met ons vriende. Ons het nie dubbele standaarde nie: ’n redelik toegeeflike standaard vir ons vriende en ’n ander, strenger standaard vir mense wat nie ons vriende is nie. Daarbenewens gebruik ons nie vleitaal om vriende te maak nie. Bowenal gee die toepassing van Bybelbeginsels ons die onderskeidingsvermoë wat nodig is om selektief te wees wanneer ons vriende kies en om ‘slegte omgang wat nuttige gewoontes bederf’, te vermy.—1 Kor. 15:33.

’n Unieke band van liefde!

Die band wat Christene verenig, is waarlik uniek! Die apostel Paulus het geskryf: “Laat julle liefde sonder huigelary wees. . . . In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê” (Rom. 12:9, 10). Ja, Christene geniet “liefde [a·gaʹpe] sonder huigelary”. Hierdie liefde is nie beperk tot ’n emosie wat in ons hart opwel nie. Dit is eerder diepgewortel in Bybelbeginsels. Paulus praat egter ook van “broederliefde” (fi·la·del·fiʹa) en “tere geneentheid” (fi·loʹstor·gos, ’n samestelling van fiʹlos en stor·geʹ). “Broederliefde” is volgens een geleerde “tere liefde, die betoning van goedhartigheid, simpatie, die aanbieding van hulp”. Saam met a·gaʹpe bevorder dit hegte kameraadskap onder Jehovah se aanbidders (1 Tess. 4:9, 10). Die ander uitdrukking, wat as “tere geneentheid” vertaal word, verskyn net een keer in die Bybel en verwys na ’n hartlike intieme band, soos in ’n gesin. c

Die band wat ware Christene verenig, is ’n kombinasie van gesinsliefde en geneentheid vir ware vriende, en alle verhoudings word gerig deur liefde wat op Bybelbeginsels gebaseer is. Die Christengemeente is nie ’n sosiale klub of ’n sekulêre organisasie nie, maar ’n hegte gesin wat verenig is in die aanbidding van Jehovah God. Ons noem medegelowiges broers en susters en beskou hulle as sodanig. Hulle is deel van ons geestelike gesin, ons het hulle lief as vriende en ons tree altyd in ooreenstemming met Bybelbeginsels teenoor hulle op. Mag ons almal voortgaan om by te dra tot die band van liefde wat die ware Christengemeente verenig en identifiseer.—Joh. 13:35.

[Voetnote]

a A·gaʹpe word ook in negatiewe kontekste gebruik.—Joh. 3:19; 12:43; 2 Tim. 4:10; 1 Joh. 2:15-17.

b Die uitdrukking “sonder natuurlike geneentheid” is ’n vertaling van ’n vorm van stor·geʹ met die negatiewe voorvoegsel a, wat “sonder” beteken.—Sien ook Romeine 1:31.

c In die Nuwe Wêreld-vertaling word ander Griekse woorde ook as “tere geneentheid” vertaal. Gevolglik verskyn “tere geneentheid” in hierdie vertaling nie net in Romeine 12:10 nie, maar ook in Filippense 1:8 en 1 Tessalonisense 2:8.

[Lokteks op bladsy 12]

Hoe dra jy by tot die band van liefde wat ons verenig?