Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christengesinne—Volg Jesus se voorbeeld!

Christengesinne—Volg Jesus se voorbeeld!

Christengesinne—Volg Jesus se voorbeeld!

“Christus het . . . vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.”—1 PET. 2:21.

1. (a) Watter rol het God se Seun in die skepping gehad? (b) Hoe voel Jesus oor die mensdom?

 TOE God die hemel en die aarde gemaak het, was sy eersgebore Seun “’n meesterwerker” naas hom. Die Seun van God het ook met sy Vader saamgewerk toe Jehovah die ontsaglike verskeidenheid diere- en plantelewe hier op die aarde ontwerp en geskep het en toe Hy die Paradys voorberei het wat die tuiste sou wees van die skepsele wat na Jehovah se beeld en gelykenis gemaak is. God se Seun, wat later as Jesus bekend geword het, het groot liefde vir die mensdom gehad. “Die dinge waarvoor [hy] lief was, was by die mensekinders.”—Spr. 8:27-31; Gen. 1:26, 27.

2. (a) Watter voorsienings het Jehovah vir die onvolmaakte mensdom gemaak? (b) Wat is een gebied van die lewe waarop die Bybel riglyne voorsien?

2 Nadat die eerste mensepaar gesondig het, het die verlossing van die sondige mensdom ’n belangrike deel van Jehovah se voorneme geword. Jehovah het Christus se losprysoffer voorsien om hierdie verlossing moontlik te maak (Rom. 5:8). Verder het Jehovah sy Woord, die Bybel, voorsien, wat aan die mens leiding gee oor hoe om suksesvol te wees ten spyte van oorgeërfde onvolmaaktheid (Ps. 119:105). In sy Woord voorsien Jehovah riglyne wat mense help om hulle gesinne sterk en gelukkig te hou. Die boek Genesis sê in verband met die huwelik: ‘’n Man sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.’—Gen. 2:24.

3. (a) Wat het Jesus oor die huwelik geleer? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Jesus het gedurende sy aardse bediening beklemtoon dat die huwelik bedoel is om permanent te wees. Hy het beginsels geleer wat, wanneer dit toegepas word, gesinslede sou help om gesindhede en gedrag te vermy wat hulle huwelik of die geluk van hulle gesin bedreig (Matt. 5:27-37; 7:12). Hierdie artikel sal bespreek hoe Jesus se leringe en die voorbeeld wat hy gestel het terwyl hy op die aarde was, mans, vrouens, ouers en kinders kan help om gelukkige, vervullende lewens te lei.

Hoe ’n Christenman sy vrou eer

4. Watter parallel is daar tussen die rol van Jesus en dié van Christenmans?

4 God het die man as die hoof van die gesin aangestel, net soos Jesus die Hoof van die gemeente is. Die apostel Paulus het gesê: “’n Man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is, hy as redder van hierdie liggaam. Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:23, 25). Ja, die manier waarop Jesus sy volgelinge behandel het, stel die standaard waarvolgens Christenmans hulle vrouens moet behandel. Kom ons kyk na party van die maniere waarop Jesus sy godgegewe gesag uitgeoefen het.

5. Hoe het Jesus sy gesag oor sy dissipels uitgeoefen?

5 Jesus was “saggeaard en nederig van hart” (Matt. 11:29). Hy was ook ’n man van aksie. Hy het nooit sy verantwoordelikhede van hom afgeskuif nie (Mark. 6:34; Joh. 2:14-17). Hy het op ’n vriendelike manier aan sy dissipels raad gegee, selfs herhaaldelik wanneer dit nodig was (Matt. 20:21-28; Mark. 9:33-37; Luk. 22:24-27). Nietemin het Jesus hulle nie uitgeskel of verneder nie, en hy het hulle ook nie laat voel dat hulle ongeliefd is of onbevoeg om uit te voer wat hy hulle geleer het om te doen nie. Hy het sy dissipels eerder geprys en aangemoedig (Luk. 10:17-21). Dit is geen wonder dat Jesus die respek van sy dissipels gewen het omdat hy hulle met liefde en medelye behandel het nie!

6. (a) Wat kan ’n man leer uit die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het? (b) Watter aansporing gee Petrus aan mans?

6 Jesus se voorbeeld leer mans dat Christelike hoofskap nie ’n posisie van hardvogtige oorheersing is nie. Dit word eerder deur respek en selfopofferende liefde gekenmerk. Die apostel Petrus het mans aangespoor om Jesus se liefdevolle weë na te volg deur “net so [met hulle vrouens] saam te woon” en “aan hulle eer toe te ken”. (Lees 1 Petrus 3:7.) Hoe kan ’n man dan sy gesag uitoefen en terselfdertyd sy vrou behandel as iemand wat verdien om geëer te word?

7. Hoe kan ’n man sy vrou eer? Lig toe.

7 Een manier waarop ’n man sy vrou kan eer, is deur haar beskouing en haar gevoelens noukeurig in ag te neem voordat hy besluite neem wat die gesin raak. Daar moet dalk besluit word oor waarheen om te trek of oor ’n werksverandering of alledaagse sake, soos waar om vakansie te gaan hou of hoe om die gesin se begroting aan te pas om met die stygende lewenskoste tred te hou. Omdat die gesin geraak sal word, sal dit voordelig en liefdevol wees as die man sy vrou se mening in ag neem, aangesien dit hom kan help om ’n gebalanseerde, bedagsamer besluit te neem, en dit sal vir haar makliker wees om hom te ondersteun (Spr. 15:22). Christenmans wat hulle vrouens eer, wen nie net hulle vrouens se liefde en respek nie, maar bowenal Jehovah se goedkeuring.—Ef. 5:28, 29.

Hoe ’n vrou diep respek vir haar man toon

8. Waarom moet Eva se voorbeeld vermy word?

8 Christenvrouens het in Jesus ’n volmaakte voorbeeld van onderdanigheid aan gesag. Wat ’n verskil is daar tog tussen sy beskouing van gesag en die gesindheid van die eerste mensevrou! Eva het nie ’n goeie voorbeeld vir vrouens gestel nie. Sy het ’n hoof gehad wat deur God aangestel is en deur wie Jehovah instruksies gegee het. Maar Eva het nie vir hierdie reëling respek getoon nie. Sy het nie die instruksies aanvaar wat Adam aan haar oorgedra het nie (Gen. 2:16, 17; 3:3; 1 Kor. 11:3). Eva is weliswaar bedrieg; maar sy moes haar man geraadpleeg het om uit te vind of dit reg is om te luister na die stem wat beweer het dat dit haar vertel wat “God weet”. Pleks daarvan het sy dit op haar geneem om vir haar man te sê wat om te doen.—Gen. 3:5, 6; 1 Tim. 2:14.

9. Watter voorbeeld van onderdanigheid stel Jesus?

9 In teenstelling hiermee het Jesus die volmaakte voorbeeld van onderdanigheid aan sy Hoof gestel. Sy gesindheid en lewensweg toon dat hy “geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie”. Inteendeel, “hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem” (Fil. 2:5-7). Vandag het Jesus, as heersende Koning, nog steeds daardie selfde gesindheid. Hy onderwerp hom nederig in alle dinge aan sy Vader en ondersteun Sy hoofskap.—Matt. 20:23; Joh. 5:30; 1 Kor. 15:28.

10. Hoe kan ’n vrou haar man se hoofskap ondersteun?

10 Dit is verstandig van ’n Christenvrou om Jesus na te volg deur haar man se hoofskap te ondersteun. (Lees 1 Petrus 2:21; 3:1, 2.) Beskou ’n situasie waar sy die geleentheid het om dit te doen. Haar seun vra of hy kan deelneem aan ’n bedrywigheid waarvoor sy ouers toestemming moet gee. Omdat die ouers die saak nog nie bespreek het nie, sal dit gepas wees as die ma vra: “Het jy jou pa gevra?” As die seun dit nie gedoen het nie, moet sy die saak met haar man bespreek voordat ’n besluit geneem word. Wat meer is, ’n Christenvrou moet haar man beslis nie voor hulle kinders weerspreek of sy mening bevraagteken nie. As daar iets is waaroor sy nie met haar man saamstem nie, sal sy alleen met hom daaroor praat.—Ef. 6:4.

Jesus se voorbeeld vir ouers

11. Watter voorbeeld het Jesus vir ouers gestel?

11 Al het Jesus nie getrou of kinders gehad nie, is hy ’n uitstekende voorbeeld vir Christenouers. Hoe so? Hy het sy dissipels liefdevol en geduldig deur sy woorde en sy voorbeeld geleer. Hy het hulle gewys hoe om die opdrag wat hy hulle gegee het, uit te voer (Luk. 8:1). Jesus se gesindheid en gedrag teenoor sy dissipels het hulle geleer hoe hulle mekaar moet behandel.—Lees Johannes 13:14-17.

12, 13. Wat word vereis as ouers godvresende kinders wil grootmaak?

12 Kinders is geneig om hulle ouers na te volg, ten goede of ten kwade. Ouers, vra julle dus af: ‘Watter boodskap dra ons aan ons kinders oor wanneer dit kom by hoeveel tyd ons aan die TV en vermaak bestee teenoor hoeveel tyd ons aan Bybelstudie en deelname aan velddiens bestee? Wat is werklik ons gesin se prioriteite? Stel ons ’n goeie voorbeeld deur ons lewe en ons besluite om ware aanbidding te laat draai?’ God se wet moet eers in die ouers se hart wees as hulle godvresende kinders wil grootmaak.—Deut. 6:6.

13 As ouers daarna streef om Bybelbeginsels in alledaagse sake toe te pas, sal hulle kinders dit raaksien. Wat die ouers sê en hulle kinders leer, sal gewig dra. Maar as die kinders ’n dubbele standaard sien, kan hulle tot die gevolgtrekking kom dat Bybelbeginsels nie werklik belangrik of prakties is nie. Gevolglik sal die kinders dalk meer geneig wees om te swig wanneer hulle voor wêreldse druk te staan kom.

14, 15. Watter waardes moet ouers by hulle kinders inskerp, en wat is een manier waarop hulle dit kan doen?

14 Christenouers besef dat die grootmaak van ’n kind meer behels as om net in sy materiële behoeftes te voorsien. Dit sal derhalwe uiters kortsigtig wees om ’n kind te leer om doelwitte na te streef wat slegs tot sy materiële voordeel sal wees (Pred. 7:12). Jesus het sy dissipels geleer om geestelike waardes en strewes eerste te stel (Matt. 6:33). In navolging van Jesus moet Christenouers dus ook probeer om by hulle kinders ’n begeerte in te skerp om geestelike doelwitte na te streef.

15 Een manier waarop ouers dit kan doen, is om geleenthede waar hulle kinders met voltydse dienaars kan assosieer, ten beste te benut. Dink hoe aanmoedigend dit vir tieners kan wees om pioniers of die kringopsiener en sy vrou te leer ken. Besoekende sendelinge, Betheliete en dié wat internasionale bouwerk doen, kan met entoesiasme praat oor die vreugdes van diens aan Jehovah. Sulke besoekers sal ongetwyfeld interessante ondervindinge hê om te vertel. Hulle voorbeeld van selfopofferende diens kan jou kinders grootliks help om wyse besluite te neem, prysenswaardige doelwitte te stel en gepaste opleiding te kry sodat hulle hulleself in die voltydse diens kan onderhou.

Kinders—Wat sal julle help om Jesus se voorbeeld te volg?

16. Hoe het Jesus sy aardse ouers en sy hemelse Vader geëer?

16 Kinders, Jesus voorsien ook vir julle ’n uitstekende voorbeeld. Jesus is aan die sorg van Josef en Maria toevertrou, en hy was gehoorsaam aan hulle. (Lees Lukas 2:51.) Hy het erken dat hulle, ten spyte van hulle onvolmaakthede, die godgegewe verantwoordelikheid ontvang het om vir hom te sorg. Aangesien dit die geval was, moes hulle geëer word (Deut. 5:16; Matt. 15:4). As ’n volwassene het Jesus altyd die dinge gedoen wat sy hemelse Vader behaag. Dit het beteken dat hy versoeking moes weerstaan (Matt. 4:1-10). Jongmense, soms kom julle dalk in die versoeking om ongehoorsaam te wees aan julle ouers. Wat kan julle dan help om Jesus se voorbeeld te volg?

17, 18. (a) Voor watter soort druk kom jongmense by die skool te staan? (b) Wat moet jongmense onthou sodat hulle toetse kan deurstaan?

17 Die meeste van julle skoolmaats het heel moontlik min of geen agting vir Bybelstandaarde nie. Hulle sal julle miskien probeer oorhaal om iets twyfelagtigs te doen en julle spot wanneer julle weier. Gee julle skoolmaats julle ooit byname omdat daar sekere dinge is wat julle nie saam met hulle wil doen nie? Indien wel, hoe reageer julle daarop? Julle weet dat julle julle ouers en Jehovah sal teleurgestel as julle toelaat dat hulle julle intimideer en julle saam met hulle verkeerde dinge doen. Wat sal van julle word as julle julle skoolmaats navolg? Dalk het julle sekere doelwitte vir julleself gestel, soos om ’n pionier of ’n bedieningskneg te word, in ’n gebied te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is of om ’n Betheliet te word. Sal assosiasie met julle skoolmaats julle help om julle doelwitte te bereik?

18 Bevind julle as jongmense in die Christengemeente julle ooit in situasies waar julle geloof op die proef gestel word? Hoe reageer julle daarop? Dink aan julle voorbeeld, Jesus. Hy het geweier om voor versoeking te swig en het vasgestaan vir wat hy geweet het reg is. As julle dit onthou, sal dit help om julle die krag te gee om ferm vir julle skoolmaats te sê dat julle nie saam met hulle iets wil doen wat julle weet verkeerd is nie. Soos Jesus, moet julle julle blik stip gerig hou op die vooruitsig van ’n leeftyd van vreugdevolle diens en gehoorsaamheid aan Jehovah.—Heb. 12:2.

Die sleutel tot ’n gelukkige gesinslewe

19. Watter lewensweg bring ware geluk mee?

19 Jehovah God en Jesus Christus wil die allerbeste vir die mensdom hê. Ons kan, selfs in ons onvolmaakte toestand, ’n mate van geluk geniet (Jes. 48:17, 18; Matt. 5:3). Jesus het godsdienswaarhede geleer wat ’n grondslag vir die mensdom se geluk vorm, maar dit is nie al wat hy aan sy dissipels oorgedra het nie. Jesus het ander ook geleer wat die beste lewenswyse is. Wat meer is, hy het ’n praktiese voorbeeld van ’n gebalanseerde lewe en ’n gebalanseerde gesindheid gelaat. Ons almal, ongeag ons rol in die gesin, kan daarby baat vind as ons sy voorbeeld volg. Mans, vrouens, ouers en kinders, volg dus Jesus se voorbeeld! Om Jesus se leringe te aanvaar en sy voorbeeld te volg, is waarlik die sleutel tot ’n bevredigende en gelukkige gesinslewe.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe moet mans hulle godgegewe gesag uitoefen?

• Hoe kan ’n vrou Jesus se voorbeeld volg?

• Wat kan ouers leer uit die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het?

• Wat kan jongmense uit Jesus se voorbeeld leer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8]

Wat sal ’n liefdevolle man doen voordat hy ’n besluit neem wat die gesin raak?

[Prent op bladsy 9]

Watter situasie gee ’n vrou die geleentheid om haar man se hoofskap te ondersteun?

[Prent op bladsy 10]

Kinders volg die goeie gewoontes van hulle ouers na