Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat goedhartigheid jou motiveer

Laat goedhartigheid jou motiveer

“DIE goedhartigheid van die Christenbroers en -susters het my die meeste geraak,” sê Lisa. * Sy het gepraat van wat haar aan die begin na die waarheid toe getrek het. Dit was dieselfde met Anne, wat erken het: “Dit het meer oor die goedhartigheid gegaan as die dinge wat hulle geleer het.” Albei hierdie susters geniet dit nou om die Bybel te lees en om daaroor na te dink, maar goedhartigheid het ’n groot impak op hulle gehad.

Hoe kan ons goedhartigheid op ’n manier betoon wat die harte van mense rondom ons raak? Kom ons bespreek twee maniere: deur wat ons sê en deur wat ons doen. Dan sal ons bespreek aan wie ons goedhartigheid moet betoon.

PRAAT OP ’N GOEDHARTIGE MANIER

Die bekwame vrou wat in Spreuke hoofstuk 31 beskryf word, praat op ’n liefdevolle en goedhartige manier (Spr. 31:26). Sy laat toe dat dit ’n uitwerking het op wat sy sê en hoe sy dit sê. Pa’s moet ook op ’n liefdevolle en goedhartige manier met hulle kinders praat. Die meeste ouers weet goed dat dit ’n negatiewe uitwerking op hulle kind kan hê as hulle iets op ’n kras manier sê. As ouers op ’n kortaf, koue manier met hulle kind praat, sal hulle kind heel moontlik nie goed reageer nie. Maar wanneer ouers op ’n goedhartige en liefdevolle manier met hulle kind praat, sal dit vir hulle kind makliker wees om na hulle te luister en om gehoorsaam te wees.

Of jy nou ’n ouer is of nie, hoe kan jy leer om op ’n goedhartige en liefdevolle manier te praat? Ons kry ’n leidraad in die eerste deel van Spreuke 31:26: “Sy praat met wysheid.” Dit beteken dat ons ons woorde en ons stemtoon goed moet kies. Dit sal gewoonlik help as ons onsself afvra: ‘Sal die dinge wat ek nou gaan sê iemand kwaad maak of sal dit vrede bevorder?’ (Spr. 15:1). Ja, dit is goed om te dink voordat ons praat.

Nog ’n spreuk sê: “As ’n mens praat sonder om te dink, sal jou woorde soos swaardsteke wees” (Spr. 12:18). Wanneer ons nadink oor hoe ons woorde en ons stemtoon ander dalk sal affekteer, kan dit ons help om te beheer wat ons sê. Ja, as ons liefdevol en goedhartig is, sal dit ons help om nie woorde te gebruik wat ander sal seermaak of op ’n lelike manier met hulle praat nie (Ef. 4:31, 32). Ons sal negatiewe gedagtes en woorde vervang met liefdevolle woorde en ’n positiewe, vriendelike stemtoon. Jehovah het die voorbeeld hierin gestel toe hy sy kneg Elia verseker het toe hy bang was. Die engel wat Jehovah verteenwoordig het, het met “’n kalm, sagte stem” gepraat (1 Kon. 19:12). Maar om goedhartig en liefdevol te wees, behels meer as om net liefdevolle woorde te gebruik. Ons moet ook goedhartige dade doen. Hoe?

GOEDHARTIGE DADE MOTIVEER ANDER

Ons volg Jehovah na deur liefdevolle woorde te gebruik en deur op ’n goedhartige manier op te tree (Ef. 4:32; 5:1, 2). Lisa, wat vroeër aangehaal is, het die goedhartigheid beskryf wat deur die Getuies betoon is. “Toe ons gesin op baie kort kennisgewing moes trek, het twee paartjies in die gemeente tyd by die werk afgevat om ons te help pak. Op daardie stadium het ek nie eens die Bybel gestudeer nie!” Daardie goedhartige dade het Lisa gemotiveer om die waarheid te ondersoek.

Anne, wat aan die begin van die artikel genoem is, was ook dankbaar vir die goedhartigheid wat die Getuies aan haar betoon het. Sy het gesê: “As gevolg van hoe die wêreld oor die algemeen is, het ek baie skepties geword. Dit was vir my moeilik om mense te vertrou.” Sy het verder gesê: “Toe ek die Getuies ontmoet het, het ek hulle nie vertrou nie. Ek het gewonder: ‘Hoekom stel hulle in my belang?’ Maar my Bybelonderrigter se opregte goedhartigheid het my gemotiveer om haar te vertrou.” Wat was die gevolg? “Later het ek begin fokus op wat ek geleer het.”

Let op dat Lisa en Anne diep geraak was deur die goedhartige dade van mense in die gemeente, en dit het hulle gemotiveer om meer oor die waarheid te wil leer. Die goedhartigheid van die gemeente het hulle gehelp om hulle harte oop te maak.

VOLG GOD NA DEUR GOEDHARTIG TEENOOR ANDER TE WEES

Party mense is dalk geneig om liefdevolle woorde te gebruik en om te glimlag as gevolg van hoe hulle grootgeword het. Wanneer sulke mense vriendelik is as gevolg van hulle kultuur en hulle persoonlikheid, kan hulle geprys word. Maar as ons net deur ons kultuur of persoonlikheid gemotiveer word, volg ons dalk nie God se goedhartigheid na nie. – Vergelyk Handelinge 28:2.

Opregte goedhartigheid is ’n aspek van die vrug van God se heilige gees (Gal. 5:22, 23). So as ons wil leer hoe om regtig goedhartig te wees, moet ons God se gees toelaat om ons denke en dade te beïnvloed. As ons dit doen, sal ons Jehovah en Jesus navolg. En as Christene stel ons baie belang in ander. So ons word gemotiveer deur liefde vir Jehovah God en vir ons medemens. Ons goedhartigheid word dan ’n kragtige eienskap wat uit die hart uit kom en wat God gelukkig maak.

TEENOOR WIE MOET ONS GOEDHARTIG WEES

Dit is dalk maklik om goedhartig en dankbaar te wees teenoor dié wat goedhartig teenoor ons is of teenoor dié wat ons ken (2 Sam. 2:6; Kol. 3:15). Maar wat as ons voel dat iemand nie verdien om goedhartig behandel te word nie?

Dink hieraan: Jehovah stel die beste voorbeeld wanneer dit kom by onverdiende goedheid, en sy geskrewe Woord leer ons ’n belangrike les oor hoekom ons hierdie eienskap moet betoon. Die uitdrukking “onverdiende goedheid” word baie keer in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. Hoe wys God hierdie eienskap?

Jehovah het goedhartigheid betoon aan al die miljoene mense wat al ooit gelewe het deur hulle te gee wat hulle nodig het om aan die lewe te bly (Matt. 5:45). Ja, selfs voordat ons Jehovah geken het, het hy goedhartigheid aan ons betoon (Ef. 2:4, 5, 8). Byvoorbeeld, hy het sy beste, sy eniggebore Seun, vir die hele mensdom gegee. Die apostel Paulus het geskryf dat Jehovah die losprys voorsien het “as gevolg van [Sy] groot onverdiende goedheid” (Ef. 1:7). En al sondig ons en stel ons Jehovah teleur, hou hy aan om ons te lei en ons te leer. Sy onderrigting en woorde is soos “sagte reën” (Deut. 32:2). Dit is onmoontlik om Jehovah terug te betaal vir die goedhartigheid wat hy aan ons betoon. En ons weet dat ons sonder Jehovah se goedhartigheid nie ’n hoop vir die toekoms sou hê nie. – Vergelyk 1 Petrus 1:13.

Jehovah se goedhartigheid bring ons beslis nader aan hom en motiveer ons. Daarom moet ons, eerder as om net goedhartig teenoor ’n paar mense te wees, probeer om Jehovah na te volg deur goedhartigheid ’n deel van ons daaglikse lewe te maak (1 Tess. 5:15). Wanneer ons altyd goedhartig is, is ons soos ’n warm vuur op ’n koue dag. Ons vertroos ons familielede, medeaanbidders, werksmaats, skoolmaats en ons bure.

Dink aan dié in jou familie of in die gemeente wat by jou goedhartige woorde en dade sal baat vind. Daar is dalk iemand in jou gemeente wat veral hulp nodig het om na sy of haar huis en tuin om te sien of om gewone dinge, soos inkopies, te doen. En kan jy op die een of ander manier praktiese hulp aanbied wanneer jy iemand in jou bediening ontmoet wat hulp nodig het?

Mag ons Jehovah navolg en toelaat dat goedhartigheid altyd ’n uitwerking het op ons woorde en dade.

^ Name is verander.