Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Sou die Romeine toelaat dat iemand soos Jesus, wat aan ’n paal gehang is, normaal begrawe word?

BAIE ken die verslag van Jesus wat tussen twee misdadigers aan ’n paal gehang is (Matt. 27:35-38). Maar party mense glo nie dat die Bybel akkuraat kan wees wanneer dit sê dat Jesus se liggaam voorberei is en in ’n graf gesit is nie. – Mark. 15:42-46.

Party kritici van die Evangelieverslae het getwyfel of iemand wat aan ’n paal gehang is, toegelaat sou word om in ’n behoorlike graf begrawe te word. Hulle het eerder geglo dat daardie persone heel moontlik anders behandel is. Die joernalis Ariel Sabar het in die Smithsonian-tydskrif verduidelik hoekom party so dink. Hy het gesê dat die kruisiging ’n straf is wat aan die ergste mense in die gemeenskap gegee is, en party geleerdes het gesê dat dit belaglik is om te dink dat die Romeine daardie mense met waardigheid sou behandel en hulle ’n behoorlike begrafnis sou gee. Die Romeine wou daardie misdadigers verneder, en daarom het hulle dikwels hulle liggame aan die paal gelos sodat wilde diere dit kon eet. Daarna sou hulle dit wat oorgebly het van die liggaam in ’n gemeenskaplike graf gooi.

Maar argeologie het iets anders geopenbaar, ten minste oor die oorskot van party Jode wat doodgemaak is. In 1968 is die beendere gevind van ’n man wat in die eerste eeu doodgemaak is. Dit was in ’n tipiese Joodse familiegraf naby Jerusalem gevind. Die beendere is in ’n ossuarium, of ’n klipkissie, gevind. ’n Hakskeenbeen was tussen die beendere. Dit is met ’n spyker wat 11,5 cm lank was aan ’n houtbord vasgespyker. Sabar het gesê dat die hakskeen, wat aan ’n man behoort het met die naam Jehotjanan, bewys het dat wat die Evangelieverslae sê oor waar Jesus begrawe is, dalk waar is. Dit is duidelik dat “Jehotjanan se hakskeen ’n voorbeeld is van ’n man wat in Jesus se dag gekruisig is en wat deur die Romeine toegelaat is om ’n Joodse begrafnis te hê”.

Daar is dalk verskillende beskouings oor wat hierdie hakskeenbeen wys oor hoe Jesus aan die paal gehang is. Maar wat duidelik is, is dat party misdadigers wel ’n begrafnis gehad het en nie net in ’n gemeenskaplike graf gegooi is nie. Die bewyse ondersteun wat die Bybel sê oor die feit dat Jesus se liggaam voorberei is en in ’n graf neergelê is.

Nog belangriker, Jehovah het voorspel dat Jesus in die graf van ’n ryk man begrawe sou word, en niemand kan keer dat God se woorde waar word nie. – Jes. 53:9; 55:11.