Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAAROM het ’n gewilde sangeres haar loopbaan prysgegee om ’n voltydse godsdiensbedienaar te word? En wat het ’n misdadiger wat volgens ’n regter nooit gerehabiliteer sou kon word nie, in staat gestel om ’n produktiewe lid van die samelewing te word? Lees hierdie verslae om uit te vind.

“Niemand kan twee here as slaaf dien nie.”—ANTOLINA ORDEN CASTILLO

GEBORE: 1962

GEBOORTELAND: SPANJE

GESKIEDENIS: AKTRISE EN ZARZUELA-SANGERES

MY VERLEDE: Ek is gebore in die klein dorpie Tresjuncos, in die streek wat as La Mancha bekend staan. Ons gesin het geboer. My ma was Katoliek, en my pa was Protestants. Hy het my geleer om die Bybel te respekteer; ek het hom dit altyd sien lees. Maar my ma het my as ’n Katoliek grootgemaak en het my elke Sondag na die mis geneem.

Toe ek 15 was, het ek die dorpie verlaat en by my ouer suster in Madrid gaan woon. Ek het baie na my ouers verlang, maar uiteindelik het ek aan die stadslewe gewoond geraak. Toe ek 17 was, het ek die geleentheid gehad om vir ’n paar maande saam met ’n zarzuela, ’n tradisionele Spaanse operette, te werk. Ek het hierdie lewe baie geniet en het besluit om ’n aktrise te word. Ek het die sekretariële kursus wat ek geloop het, laat vaar en saam met verskillende zarzuela-geselskappe begin werk. Omtrent hierdie tyd het ek ’n verhouding begin met die broer van een van my vriende. Ek het so geseënd gevoel omdat ek ’n goeie werk, geld en liefde gehad het.

Ek het saam met verskillende zarzuela-geselskappe oral in Spanje sowel as in ander lande, soos Colombia, Costa Rica, Ecuador en Venezuela, begin toer. Ek het ook saam met verskeie groepe gesing wat aan ’n gewilde musiekbeweging in Madrid behoort het wat as “La movida madrileña” bekend gestaan het. Een van die groepe waarvoor ek die hoofsangeres was, het baie suksesvol geword.

Ek het die werk geniet, maar het nie van die onsedelike omgewing gehou nie. Verder het ek behep geraak met my voorkoms en ander se beskouing van my. Ek het ’n baie streng dieet gevolg en het aan anoreksie en bulimie begin ly.

My hoofdoel was nog steeds om ’n aktrise te word. Uiteindelik het ek toelating verkry tot die Madrid se Toneelskool. Ons is geleer dat toneelspel vereis dat die individu in die karakter se gevoelens asook in sy of haar eie gevoelens moet delf. Toe ek hierdie raad toegepas het, het ek besef dat ek emosioneel leeg is. Ek het ’n oppervlakkige, selfsugtige vrou geword.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek het geweet dat ek my sou moes inspan as ek goeie eienskappe wou aankweek. Maar ek het nie geweet waar om te begin nie. Ek het besluit om na ’n evangeliese kerk in Madrid te gaan wat ek eenkeer saam met my ouers besoek het. Ek het tot God gebid en sy naam, Jehovah, gebruik.

Kort hierna het twee van Jehovah se Getuies my by die huis besoek. Ek het die Bybel gretig met hulle bespreek, maar het ook baie besware geopper teen wat hulle geleer het. Esther, die Getuie wat ’n gereelde Bybelstudie met my gehou het, was baie geduldig. Sy en haar gesin het my met groot liefde en teerheid behandel. Ek het die vergaderinge van die Getuies begin bywoon en het gou besef dat ek die waarheid waarna ek op soek was, gevind het.

Onmiddellik nadat ek my studies in die toneelkuns voltooi het, het allerhande beroepsgeleenthede hulle voorgedoen. Ek het ’n rol verkry in ’n toneelstuk wat in ’n bekende teater in Madrid opgevoer sou word. Maar ek het ook besef dat ek my ten volle aan die kunste sou moes wy om as aktrise suksesvol te wees. Ek het uiteindelik besluit om ’n ander soort werk te soek, een wat my sou toelaat om my daarop toe te spits om God te dien. Ek het Jesus se woorde ter harte geneem: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). My kêrel van agt jaar het nie my oortuigings gedeel nie, en daarom het ek besluit om die verhouding te beëindig. Nie een van hierdie veranderinge was maklik nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Op die oomblik werk ek deeltyds en voorsien ek ontspanningsaktiwiteite en vermaak aan die bejaardes. Dit stel my in staat om die meeste van my tyd te gebruik om Arabiessprekendes in my gebied die Bybel te leer. Ek moet hard werk om hierdie nuwe taal aan te leer, maar ek geniet dit terdeë om die goeie dinge wat ek geleer het, oor te dra aan hierdie mense, wat so gasvry en geestelikgesind is.

Die leemte wat ek gevoel het toe ek studeer het om ’n aktrise te word, is nou vervang met die gevoel dat ek ’n doel in die lewe het. Ek voel dat Jehovah my gehelp het om ’n beter, gelukkiger mens te word.

‘Ek het die regter verkeerd bewys.’—PAUL KEVIN RUBERY

GEBORE: 1954

GEBOORTELAND: ENGELAND

GESKIEDENIS: GEWELDDADIGE MISDADIGER

MY VERLEDE: Ek is gebore in Dudley, ’n groot nywerheidsdorp in die westelike deel van Midde-Engeland. Van kleins af het my pa ’n liefde vir lees by my aangekweek. Hy het ook ’n waardering vir die wonders van die natuur in my probeer opbou, hoewel hy dit aan evolusie toegeskryf het. Hy het my geleer dat God nie bestaan nie. Nogtans het my ouers my na ’n plaaslike Metodistesondagskool gestuur.

Toe ek agt was, het ek gesien hoe ’n paar plaaslike seuns ’n boot op die kanaal aan die brand steek. Die polisie het gekom, maar ek was te bang om met hulle te praat. Die seuns het my gedreig. Ek is valslik van die misdaad beskuldig en het gegriefd gevoel. In reaksie hierop het ek skade aangerig aan ’n paar plaaslike skole, kerke en fabrieke en het ek ’n spoor van verwoesting van duisende rande agtergelaat. Teen die tyd dat ek tien was, het ek by huise en winkels begin inbreek om te steel. Ek het gefassineerd geraak met vuur en het etlike brande gestig. By die skool het die onderwysers my as onbeheerbaar beskryf.

Toe ek 12 was, het ek ’n boek oor die okkulte ontdek en my eie ouijabord gemaak. Omdat my ouers nie in God geglo het nie, het hulle gedink dat my belangstelling in spiritisme net onskadelike pret is en dat dit my uit die moeilikheid sou hou. Maar teen die tyd dat ek skool verlaat het, het ek al baie kere voor die jeughof verskyn. Ek het aangesluit by ’n gewelddadige groep wat skeerkoppe genoem word. Ek het ’n skeermes en ’n fietsketting as wapens gedra. Ek het werk gekry, maar het dit gou weer verloor, want ek is vir ’n ruk tronk toe gestuur. Ná my vrylating het ek weer skade aan eiendom begin aanrig en is ek gearresteer en tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Die regter het gesê dat ek nooit gerehabiliteer sal kan word nie en dat ek ’n gevaar vir die samelewing is.

Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek my voormalige meisie, Anita, raakgeloop. Ons het getrou, en ek het ’n ruk lank nie gesteel of moeilikheid gemaak nie. Maar ná ’n paar jaar het ek teruggekeer na ’n lewe van misdaad. Ek het by besighede begin inbreek en hulle kluise beroof. Ek het begin om dwelms te gebruik, straf te drink en ’n vuurwapen te dra. Ek is weer gearresteer en tronk toe gestuur.

My lewenswyse het vir Anita baie stres veroorsaak. Haar dokter het vir haar kalmeermiddels voorgeskryf, maar hy het vir haar gesê dat sy eintlik ’n egskeiding nodig het. Gelukkig het sy nie sy raad gevolg nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Vroeg in ons huwelik het Anita die Bybel vir ’n kort rukkie saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Toe, terwyl ek my laaste vonnis uitgedien het, het die Getuies weer met haar in aanraking gekom. Toevallig het ek op daardie selfde dag tot God gebid en gesê: “As u regtig bestaan, bewys dit aan my.”

Toe ek ’n paar maande later uit die tronk vrygelaat is, het ek met die plaaslike predikant in verbinding getree en hom gevra om die Bybel met my en Anita te studeer. Hy het gesê dat hy ons slegs geloofsbelydenisse van die kerk en ’n gebed sou leer.

Uiteindelik het ek die Bybel begin lees. Ek was verbaas om uit te vind dat die Bybel die gebruik van spiritisme veroordeel (Deuteronomium 18:10-12). Later het ek ’n eksemplaar van Die Wagtoring gevind wat die Getuies by Anita gelaat het op die dag wat ek tot God om hulp gebid het. Wat ek gelees het, het my beweeg om met die Getuies in aanraking te kom.

Ons families, ons vriende en my misdadigervriende was nie gelukkig toe hulle uitvind dat ons die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer nie. Party van hulle het gesê dat ek gebreinspoel word. Om eerlik te wees, my denke moes gereinig word. Ek het baie persoonlikheidsgebreke sowel as ’n afgestompte gewete gehad, en buiten ander slegte gewoontes het ek ook tot 60 sigarette per dag gerook. Die Getuies wat ons gehelp het om van die Bybel te leer en diegene waarmee ons in die plaaslike gemeente geassosieer het, was baie geduldig en vriendelik. Uiteindelik het ek my slegte gewoontes afgelê.—2 Korintiërs 7:1.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek en Anita is nou al 35 jaar lank getroud. Een van ons kinders en twee van ons kleinkinders dien Jehovah saam met ons. In onlangse jare was dit vir my en Anita moontlik om baie van ons tyd te gebruik om ander te help om van die Bybel te leer.

Om Jehovah God te dien, het ons lewens werklik doelgerig en sinvol gemaak. In 1970 het ’n regter vir die hof gesê dat ek nie gerehabiliteer kan word nie. Maar met die hulp van God en met die leiding van die Bybel het ek die regter verkeerd bewys.