Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom laat God boosheid en lyding toe?

Waarom laat God boosheid en lyding toe?

Leer uit God se Woord

Waarom laat God boosheid en lyding toe?

Hierdie artikel opper vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Hoe het boosheid begin?

Boosheid het op die aarde begin toe Satan die eerste leuen vertel het. Satan was nie sleg toe hy geskep is nie. Hy was ’n volmaakte engel, maar hy “het nie in die waarheid vasgestaan nie” (Johannes 8:44). Hy het ’n begeerte ontwikkel om aanbid te word, iets wat net God regmatig toekom. Satan het vir die eerste vrou, Eva, gelieg en het haar oorreed om aan hom gehoorsaam te wees, in plaas van aan God. Adam het hom by Eva aangesluit in haar ongehoorsaamheid aan God. Adam se besluit het lyding en die dood tot gevolg gehad.—Lees Genesis 3:1-6, 17-19.

Toe Satan voorgestel het dat Eva aan God ongehoorsaam moet wees, het hy ’n opstand teen God se soewereiniteit begin. Die meerderheid van die mensdom het hulle by Satan aangesluit deur God as Heerser te verwerp. So het Satan “die heerser van die wêreld” geword.—Lees Johannes 14:30; Openbaring 12:9.

2. Was daar ’n defek in God se skepping?

Die mense en die engele wat God geskep het, was heeltemal in staat om God se vereistes na te kom (Deuteronomium 32:5). God het ons geskep met die vryheid om te kies of ons goed of kwaad wil doen. Hierdie vryheid bied ons die geleentheid om ons liefde vir God te toon.—Lees Jakobus 1:13-15; 1 Johannes 5:3.

3. Waarom het God lyding toegelaat?

Jehovah het ’n tyd lank opstand teen sy soewereiniteit geduld. Waarom? Om te toon dat geen poging om sonder hom te regeer voordele vir die mensdom inhou nie (Jeremia 10:23). Ná 6 000 jaar van die mensegeskiedenis is die geskil opgelos. Menseheersers het daarin misluk om oorlog, misdaad, ongeregtigheid en siekte te verwyder.—Lees Prediker 7:29; 8:9; Romeine 9:17.

In teenstelling hiermee word diegene wat God as hulle Heerser aanvaar, bevoordeel (Jesaja 48:17, 18). Binnekort sal Jehovah alle menseregerings tot ’n einde bring. Slegs mense wat kies om hulle aan God se heerskappy te onderwerp, sal die aarde bewoon.—Jesaja 2:3, 4; 11:9; lees Daniël 2:44.

4. Watter geleentheid bied God se geduld?

Satan het beweer dat niemand lojaal aan Jehovah gehoorsaam sal wees nie. God se geduld bied ons almal die geleentheid om te toon of ons ten gunste is van heerskappy deur God of deur die mens. Ons wys deur middel van ons lewenswyse wat ons gekies het.—Lees Job 1:8-11; Spreuke 27:11.

5. Hoe kies ons God as Heerser?

Ons kies God as Heerser as ons ware aanbidding wat op sy Woord, die Bybel, gebaseer is, nastreef en beoefen (Johannes 4:23). Net soos Jesus, vermy ons ook betrokkenheid by die politiek en oorlog.—Lees Johannes 17:14.

Satan gebruik sy mag om onsedelike, skadelike gebruike te bevorder. Wanneer ons sulke gebruike verwerp, sal party van ons vriende en familielede ons dalk bespot of teëstaan (1 Petrus 4:3, 4). Ons staan dus voor ’n keuse. Sal ons met mense assosieer wat vir God lief is? Sal ons sy wyse en liefdevolle wette gehoorsaam? As ons dit doen, bewys ons dat Satan gelieg het toe hy beweer het dat niemand sou doen wat God sê nie.—Lees 1 Korintiërs 6:9, 10; 15:33.

Vir verdere inligting, sien hoofstuk 11 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 16]

Adam het ’n slegte keuse gemaak

[Prent op bladsy 17]

Ons keuses toon of ons God as ons Heerser wil hê