Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOLG HULLE GELOOF NA

Hy het volhard ondanks ongeregtigheid

Hy het volhard ondanks ongeregtigheid

ELIA het al met die Jordaanvallei langs gestap. Hy het weke lank noordwaarts gereis vanaf die verafgeleë berg Horeb. Toe hy uiteindelik terug was in Israel, kon hy veranderinge in sy vaderland sien. Daar was al hoe minder tekens van die lang droogte. Die sagte herfsreën het begin val, en boere was besig om hulle landerye te ploeg. Dit het die profeet se hart moontlik goed gedoen om te sien dat die land herstel, maar die volk was sy grootste bekommernis. Hulle geestelike toestand was betreurenswaardig. Die plaag van Baälaanbidding het nog steeds hoogty onder hulle gevier, en Elia het baie werk gehad om te doen. *

Elia het naby die dorp Abel-Mehola gesien hoe landerye op groot skaal bewerk word. Vier-en-twintig osse was in pare gejuk, en die 12 spanne het saam geploeg en ewewydige vore in die klam grond getrek. Die man by die laaste span osse was die een na wie Elia gesoek het. Dit was Elisa, die man wat Jehovah as Elia se opvolger gekies het. Elia het vroeër gedink dat hy die enigste een is wat lojaal is aan God, en daarom was hy ongetwyfeld gretig om Elisa te ontmoet.—1 Konings 18:22; 19:14-19.

Was Elia dalk ook ’n bietjie huiwerig omdat hy van sy verantwoordelikhede en voorregte aan iemand anders moes oordra of omdat hy eendag vervang sou word? Ons weet nie; en ons kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat hy hieraan gedink het nie. Hy was immers “’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Hoe dit ook al sy, die Bybelverslag sê: “Elia [het] na hom toe gegaan en sy ampskleed op hom gegooi” (1 Konings 19:19). Elia se ampskleed—heel moontlik van skaap- of bokvel—was ’n mantel wat gedra is as ’n teken van sy spesiale aanstelling deur Jehovah. Om dit oor Elisa se skouers te gooi, was dus ’n betekenisvolle gebaar. Elia het hom gewillig onderwerp aan Jehovah se bevel om Elisa as sy opvolger aan te stel. Elia het sy God vertrou en was gehoorsaam aan hom.

Elia het Elisa nederig as sy opvolger aangestel

Die jonger man was gretig om die ouer profeet te help. Elisa sou Elia nie onmiddellik opvolg nie. Inteendeel, hy het die ouer profeet omtrent ses jaar lank nederig vergesel en gehelp en het later bekend gestaan as die een “wat water op die hande van Elia uitgegooi het” (2 Konings 3:11). Hoe bemoedigend was dit tog vir Elia om so ’n bekwame, behulpsame dienaar te hê! Die twee manne het waarskynlik hegte vriende geword. Die aanmoediging wat hulle mekaar gegee het, het hulle albei sekerlik gehelp om te volhard ondanks die verskriklike ongeregtigheid wat hulle oral in die land gesien het. Veral die goddeloosheid van die koning, Agab, het al hoe erger geword.

Kom jy ooit voor ongeregtigheid te staan? In hierdie verdorwe wêreld is dit met die meeste van ons die geval. As ’n mens ’n vriend het wat vir God lief is, kan dit jou help om te volhard. Jy kan ook baie uit Elia se geloof leer wanneer jy met ongeregtigheid te kampe het.

‘STAAN OP, GAAN AF OM AGAB TE ONTMOET’

Elia en Elisa het hulle ingespan om die volk geestelik op te bou. Hulle het klaarblyklik die leiding daarin geneem om ander profete op te lei, wat moontlik in opleidingskole ingedeel is. Maar later het Elia ’n nuwe toewysing van Jehovah ontvang: “Staan op, gaan af om Agab, die koning van Israel, . . . te ontmoet” (1 Konings 21:18). Wat het Agab verkeerd gedoen?

Die koning was reeds ’n afvallige, die slegste koning wat Israel tot op daardie stadium gehad het. Hy het met Isebel getrou en Baälaanbidding in die land laat floreer, waaraan hy as koning self deelgeneem het (1 Konings 16:31-33). Baälaanbidding het vrugbaarheidsritusse, rituele prostitusie en selfs kinderofferandes ingesluit. Agab het ook kort tevore ’n bevel van Jehovah verontagsaam om die goddelose Siriese koning Ben-Hadad tereg te stel. Agab het blykbaar geweier omdat dit vir hom geldelike voordeel ingehou het (1 Konings, hoofstuk 20). Maar nou het Agab en Isebel se gierigheid, materialisme en gewelddadigheid nog erger geword.

Agab het ’n paleis in Samaria gehad—en wat ’n ontsaglike gebou was dit tog! Hy het ook ’n paleis gehad in Jisreël, sowat 37 kilometer daarvandaan. Langs hierdie tweede woning was ’n wingerd. Agab wou hierdie stukkie grond hê, wat aan ’n man met die naam Nabot behoort het. Agab het hom laat roep en het aangebied om die wingerd by hom te koop of hom iets in ruil daarvoor te gee. Maar Nabot het gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om die erfbesitting van my voorvaders aan u te gee” (1 Konings 21:3). Was Nabot hardkoppig? Roekeloos? Baie mense dink so. In werklikheid was hy gehoorsaam aan die Wet van Jehovah, wat die Israeliete verbied het om grond wat die erfbesitting van hulle familie is, permanent aan iemand anders te verkoop (Levitikus 25:23-28). Dit was vir Nabot ondenkbaar om God se Wet te verbreek. Hy was ’n man van geloof en moed, want hy het ongetwyfeld geweet dat dit gevaarlik is om Agab se versoek te weier.

Agab het hom natuurlik glad nie aan Jehovah se Wet gesteur nie. Hy het huis toe gegaan, “stuurs en terneergedruk” omdat hy nie sy sin gekry het nie. Ons lees: “Toe het hy op sy slaapbank gaan lê en sy gesig weggekeer gehou, en hy het geen brood geëet nie” (1 Konings 21:4). Toe Isebel sien dat haar man soos ’n koppige kind dikmond is, het sy gou ’n plan beraam sodat hy kon kry wat hy wou hê—en terselfdertyd is ’n regverdige gesin uitgewis.

’n Mens kan nie anders as om geskok te wees wanneer jy van haar bose plan lees nie. Koningin Isebel het geweet dat twee getuies volgens God se Wet nodig is om ’n ernstige aantyging te bevestig (Deuteronomium 19:15). Daarom het sy briewe in Agab se naam geskryf, waarin vername manne van Jisreël beveel is om twee manne te vind wat bereid sou wees om ’n valse aantyging teen Nabot te maak—’n aantyging van godslastering, waarvoor die doodstraf opgelê is. Ongelukkig het haar plan gewerk. Twee “deugniete” het valse getuienis teen Nabot afgelê, en gevolglik is hy met klippe doodgegooi. En dit is nie al nie—Nabot se seuns is ook doodgemaak! (1 Konings 21:5-14; Levitikus 24:16; 2 Konings 9:26). * Toe Agab sy vrou toegelaat het om te doen net wat sy wil en om daardie onskuldige mense dood te maak, het hy in werklikheid van sy hoofskap afstand gedoen.

Stel jou Elia se gevoelens voor toe Jehovah aan hom geopenbaar het wat die koning en koningin gedoen het. Dit kan baie ontmoedigend wees wanneer dit lyk asof goddelose mense oor onskuldige mense seëvier (Psalm 73:3-5, 12, 13). Vandag sien ons dikwels dat verskriklike onregte gepleeg word—soms selfs deur invloedryke mense wat beweer dat hulle God verteenwoordig. Maar ons kan vertroosting put uit hierdie Bybelverslag. Dit herinner ons daaraan dat niks vir Jehovah verborge is nie. Hy kan alles sien (Hebreërs 4:13). En wat doen hy omtrent die goddelose dade wat hy sien?

“HET JY MY GEVIND, O MY VYAND?”

Jehovah het Elia na Agab toe gestuur. God het gesê: “Kyk, hy is in die wingerd van Nabot” (1 Konings 21:18). Toe Isebel vir Agab sê dat die wingerd nou aan hom behoort, het hy dadelik opgestaan om na sy nuwe besitting te gaan kyk. Hy het nooit daaraan gedink dat Jehovah sien wat gebeur nie. Stel jou sy gesigsuitdrukking voor terwyl hy in daardie wingerd rondgeloop het, sy kop vol drome oor die pragtige tuin waarin hy die wingerd sou omskep. Maar skielik het Elia verskyn! Die gelukkige uitdrukking op Agab se gesig het verander in een van haat terwyl hy woedend gesê het: “Het jy my gevind, o my vyand?”—1 Konings 21:20.

“Het jy my gevind, o my vyand?”

Agab se woorde het getoon dat hy in twee opsigte dwaas was. Eerstens, deur vir Elia te sê: “Het jy my gevind?” het Agab geopenbaar dat hy geestelik blind is. Jehovah het hom reeds “gevind”. Hy het gesien hoe Agab die gawe van wilsvryheid misbruik en die vrug van Isebel se bose plan geniet. God het gesien wat in Agab se hart is—dat liefde vir ’n materiële besitting enige gevoel van barmhartigheid, geregtigheid of medelye oorskadu het. Tweedens, deur vir Elia te sê: “O my vyand”, het Agab sy haat geopenbaar vir ’n man wat ’n vriend van Jehovah God was en wat Agab kon gehelp het om hom van sy rampspoedige weg af te keer.

Ons kan noodsaaklike lesse uit Agab se dwaasheid leer. Ons moet altyd onthou dat Jehovah God alles sien. As ’n liefdevolle Vader weet hy wanneer ons van die regte pad afdwaal, en hy wil graag sien dat ons ons weë verander. Om ons te help, gebruik hy dikwels sy vriende—getroue mense wat, soos Elia, God se woorde aan ander mense oordra. Dit sal beslis ’n fout wees om God se vriende as ons vyande te beskou!—Psalm 141:5.

Stel jou die toneel voor toe Elia Agab geantwoord het: “Ek het u gevind.” Hy het geweet watter soort persoon Agab is—’n dief, ’n moordenaar en ’n opstandeling teen Jehovah God. Watter moed het dit tog van hom geverg om sy man te staan teen hierdie goddelose mens! Elia het toe God se vonnis oor Agab uitgespreek. Jehovah was bewus van die hele situasie—Agab se gesin het goddeloosheid laat versprei, en dit het die volk beïnvloed. Daarom het Elia vir Agab gesê dat God ‘heeltemal ontslae sal raak’ van daardie hele koningshuis, dat hy dit sal uitroei. Isebel sou ook tot verantwoording geroep word.—1 Konings 21:20-26.

Elia het nie sinies aangeneem dat mense eenvoudig nie gestraf word vir hulle goddelose, onregverdige gedrag nie. In vandag se wêreld kan ’n mens maklik tot hierdie slotsom kom. Hierdie Bybelverslag herinner ons nie net daaraan dat Jehovah God sien wat aangaan nie, maar ook dat hy op sy bestemde tyd geregtigheid tot stand bring. Sy Woord verseker ons dat die dag sal aanbreek wanneer hy alle ongeregtigheid vir ewig tot ’n einde sal bring! (Psalm 37:10, 11). Maar jy wonder dalk: ‘Sluit God se oordele net straf in? Of speel barmhartigheid ook ’n rol daarin?’

‘HET JY GESIEN HOE AGAB HOM VERNEDER HET?’

Elia was dalk verbaas oor hoe Agab op God se oordeel gereageer het. Die verslag sê: “Net toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en saklinne om sy vlees gesit; en hy het begin vas en die hele tyd in saklinne gaan lê en bedruk rondgeloop” (1 Konings 21:27). Het Agab berou getoon oor sy weë?

Ons kan ten minste sê dat dit ’n tree in die regte rigting was. Agab het hom verneder—iets wat beslis moeilik was vir ’n trotse, verwaande man. Maar was dit opregte berou? Kom ons vergelyk Agab se optrede met dié van ’n latere koning wat moontlik goddeloser as hy was—Manasse. Toe Manasse deur Jehovah gestraf is, het hy hom verneder en tot Jehovah om hulp geroep. Maar dit is nie al wat hy gedoen het nie. Hy het toe sy lewenswyse verander deur ontslae te raak van die afgodsbeelde wat hy opgerig het, deur Jehovah te begin dien en deur ook sy volk aan te spoor om dit te doen (2 Kronieke 33:1-17). Het Agab so opgetree? Ongelukkig nie.

Het Jehovah dit raakgesien toe Agab in die openbaar getoon het dat hy jammer is? Jehovah het vir Elia gesê: “Het jy gesien hoe Agab hom weens my verneder het? Omdat hy hom weens my verneder het, sal ek die rampspoed nie in sy dae bring nie. In die dae van sy seun sal ek die rampspoed oor sy huis bring” (1 Konings 21:29). Het Jehovah Agab vergewe? Nee, God bewys slegs sulke barmhartigheid as opregte berou getoon word (Esegiël 33:14-16). Maar omdat Agab getoon het dat hy tot ’n mate spyt is, het Jehovah ’n ooreenstemmende mate van barmhartigheid bewys. Agab sou die verskriklike ondervinding gespaar word om die uitwissing van sy hele gesin te sien.

Maar Jehovah sou nog steeds oordeel aan die man voltrek. Jehovah het later sy engele gevra wat die beste manier is om Agab te flous sodat hy sou deelneem aan die geveg waarin hy sy lewe sou verloor. Kort daarna is Jehovah se vonnis aan Agab voltrek. Nadat Agab in die geveg gewond is, het hy hom doodgebloei in sy strydwa. Die verslag voeg hierdie grusame besonderheid by: Toe die koninklike strydwa gewas is, het honde die koning se bloed opgelek. Jehovah se woorde wat Elia aan Agab oorgedra het, is sodoende in die openbaar vervul: “Op die plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal die honde jou bloed oplek, ja joune.”—1 Konings 21:19; 22:19-22, 34-38.

Vir Elia, Elisa en al die ander getroues onder God se volk was Agab se dood ’n gerusstellende herinnering dat Jehovah nie van Nabot se moed en geloof vergeet het nie. Die God van geregtigheid sal beslis goddeloosheid straf, hetsy vroeër of later; en hy sal ook barmhartigheid bewys wanneer daar ’n grondslag daarvoor is (Numeri 14:18). Wat ’n kragtige les was dit tog vir Elia, wat dekades lank onder die heerskappy van daardie goddelose koning volhard het! Was jy al ’n slagoffer van ongeregtigheid? Sien jy uit na die tyd wanneer God sake sal regstel? Jy kan gerus Elia se geloof navolg. Saam met sy getroue metgesel Elisa het hy aangehou om God se boodskappe te verkondig en ondanks ongeregtigheid te volhard!

^ par. 3 Jehovah het ’n droogte van drie en ’n half jaar gebruik om te toon hoe magteloos Baäl is, wat as ’n god van reën en vrugbaarheid aanbid is (1 Konings, hoofstuk 18). Sien die artikels “Volg hulle geloof na” in Die Wagtoring van 1 Januarie en 1 April 2008.

^ par. 13 Isebel was dalk bang dat Nabot se seuns die wingerd sou erf, en dit het haar moontlik beweeg om te reël dat Nabot se seuns vermoor word. Vir ’n bespreking oor waarom God sulke dade van onderdrukking toelaat, sien die artikel “Ons lesers vra” in hierdie nommer.