Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE OORLOG WAT DIE WÊRELD VERANDER HET

Wie sit werklik agter oorlog en lyding?

Wie sit werklik agter oorlog en lyding?

Op 11 November 1918 het die Eerste Wêreldoorlog tot ’n einde gekom. Sakeondernemings het toegemaak, en mense het in die strate gedans. Maar die gedans het nie lank geduur nie. ’n Ander bedreiging—wat selfs dodeliker as die masjiengeweer was—het kort op die hakke van die wêreldoorlog gevolg.

’n Dodelike plaag wat die Spaanse griep genoem is, het die slagvelde van Frankryk in Junie 1918 binnegedring. Dit was gou duidelik hoe dodelik die virus is. Dit het byvoorbeeld binne ’n paar maande meer Amerikaanse soldate in Frankryk doodgemaak as wat die vyand doodgeskiet het. Van die soldate wat ná die oorlog na hulle vaderland teruggekeer het, was met die virus besmet, en daarom het die griep vinnig regoor die wêreld versprei.

Die naoorlogse jare is ook gekenmerk deur honger en armoede. Verhongering was reeds ’n werklikheid in ’n groot deel van Europa toe die vyandelikhede in 1918 tot ’n einde gekom het. Teen 1923 was die Duitse geldeenheid feitlik niks werd nie. Ses jaar later het die hele wêreldekonomie in duie gestort. En uiteindelik, in 1939, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek—wat in sekere opsigte ’n voortsetting van die Eerste Wêreldoorlog was. Wat was agter hierdie unieke reeks rampe?

DIE TEKEN VAN DIE LAASTE DAE

Bybelprofesieë stel ons in staat om te sien wat agter sekere geskiedkundige gebeurtenisse sit, en dit is veral die geval met die Eerste Wêreldoorlog. Jesus Christus het ’n tyd voorspel wanneer ‘nasie teen nasie sou opstaan’ en voedseltekorte en pessiektes die aarde sou teister (Matteus 24:3, 7; Lukas 21:10, 11). Hy het vir sy dissipels gesê dat hierdie rampe ’n teken van die laaste dae sou wees. Meer besonderhede word gegee in die boek Openbaring, wat weë op die aarde met ’n oorlog in die hemel verbind.—Sien die venster  “Oorlog op die aarde en oorlog in die hemel”.

Hierdie selfde Bybelboek beskryf vier perderuiters, wat soms die vier perderuiters van die Apokalips genoem word. Drie van hierdie perderuiters beeld dieselfde rampe uit as wat Jesus vroeër voorspel het—oorlog, hongersnood en pessiektes. (Sien die venster  “Is die vier perderuiters werklik aan die galop?”) Dit is duidelik dat die Eerste Wêreldoorlog aanleiding gegee het tot ’n tyd van ellende wat nog nie opgehou het nie. En die Bybel toon dat Satan in groot mate hiervoor verantwoordelik is (1 Johannes 5:19). Sal sy mag ooit tot ’n einde kom?

Die boek Openbaring verseker ons ook dat Satan net “’n kort tydjie” het (Openbaring 12:12). Daarom is hy woedend en veroorsaak hy ongekende weë hier op die aarde. Maar die probleme wat ons sien, bewys ook dat Satan se tyd min raak.

DIE WERKE VAN DIE DUIWEL SAL VERBREEK WORD

Die Eerste Wêreldoorlog was beslis ’n keerpunt in die geskiedenis. Dit het ’n tydperk van totale oorlog ingelui, wat aanleiding gegee het tot opstande en tot wantroue in menseleiers. Dit lewer ook duidelike bewys dat Satan uit die hemel gewerp is (Openbaring 12:9). En hierdie onsigbare heerser van die wêreld het gereageer soos ’n wrede diktator wat weet dat sy dae getel is. Wanneer hierdie dae tot ’n einde kom, sal die moeilike tye wat met die Eerste Wêreldoorlog begin het, uiteindelik verby wees.

In die lig van Bybelprofesieë het jy rede om te vertrou dat Jesus Christus, ons hemelse Koning, binnekort “die werke van die Duiwel [sal] verbreek” (1 Johannes 3:8). Miljoene mense bid reeds dat God se Koninkryk moet kom. Bid jy daarvoor? Danksy hierdie Koninkryk sal getroue mense uiteindelik sien dat God se wil—nie Satan s’n nie—op die aarde geskied (Matteus 6:9, 10). Onder God se Koninkryk sal daar nooit weer ’n wêreldoorlog—of enige oorloë—wees nie! (Psalm 46:9). As jy omtrent hierdie Koninkryk leer, sal jy die vooruitsig hê om te lewe wanneer vrede oral op die aarde sal heers!—Jesaja 9:6, 7.

^ par. 20 Sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.