Spring na inhoud

Wat is Christus se koms?

Wat is Christus se koms?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel verwys dikwels na ’n toekomstige tyd wanneer Christus kom om die mense op die aarde te oordeel. a Matteus 25:31-​33 sê byvoorbeeld:

 “Wanneer die Seun van die mens [Jesus Christus] in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand.”

 Hierdie oordeelstyd sal deel wees van ’n “groot verdrukking” soos daar nog nooit tevore was nie. Hierdie verdrukking sal ’n klimaks bereik met die oorlog van Armageddon (Matteus 24:21; Openbaring 16:16). Christus se vyande, wat in sy illustrasie met bokke vergelyk word, “sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan” (2 Tessalonisense 1:9; Openbaring 19:11, 15). In teenstelling hiermee, sal sy getroue knegte, die skape, die vooruitsig op “die ewige lewe” hê.​—Matteus 25:46.

Wanneer sal Christus kom?

 Jesus het gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie” (Matteus 24:36, 42; 25:13). Maar hy het wel ’n sigbare, saamgestelde “teken” beskryf wat die tydperk voor sy koms sou kenmerk.​—Matteus 24:3, 7-14; Lukas 21:10, 11.

Kom Christus met ’n geestelike of vleeslike liggaam?

 Jesus is met ’n geestelike liggaam opgewek, en daarom kom hy as ’n geespersoon, nie as ’n mens nie (1 Korintiërs 15:45; 1 Petrus 3:18). Daarom kon Jesus die dag voor sy dood vir sy apostels sê: “Nog ’n rukkie en die wêreld sal my nie meer sien nie.”​—Johannes 14:19.

Algemene wanopvattings oor Christus se koms

 Wanopvatting: Wanneer die Bybel sê dat mense Jesus “op die wolke . . . sien kom”, beteken dit dat ons Jesus sal kan sien.​—Matteus 24:30.

 Feit: Die Bybel verbind wolke dikwels met iets wat ons nie kan sien nie (Levitikus 16:2; Numeri 11:25; Deuteronomium 33:26). God het byvoorbeeld vir Moses gesê: “Ek kom in ’n donker wolk na jou toe” (Eksodus 19:9). Moses het God nie letterlik gesien nie. Net so sal Christus ‘op die wolke kom’ in die sin dat mense van sy koms bewus sal wees, al kan hulle hom nie letterlik sien nie.

 Wanopvatting: Die uitdrukking “elke oog sal hom sien”, wat in Openbaring 1:7 met verwysing na Christus se koms gebruik word, moet letterlik verstaan word.

 Feit: Die Griekse woorde wat in die Bybel gebruik word vir “oog” en “sien”, hou soms verband met onderskeidings- of waarnemingsvermoë, nie met letterlike sig nie (Matteus 13:15; Lukas 19:42; Romeine 15:21; Efesiërs 1:18). b Die Bybel sê dat Jesus sedert sy opstanding “in ontoeganklike lig woon, wat nie een van die mense ... kan sien nie” (1 Timoteus 6:16). Gevolglik sal ‘elke oog hom sien’ in die sin dat alle mense sal besef dat Jesus die een is wat God se oordeel voltrek.​—Matteus 24:30.

 Wanopvatting: Tweede Johannes 7 toon dat Jesus in die vlees sal kom.

 Feit: Hierdie Bybelvers sê: “Baie bedrieërs het in die wêreld uitgegaan, mense wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie.”

 In die apostel Johannes se dag het party ontken dat Jesus in die vlees as ’n mens aarde toe gekom het. Hulle is Gnostici genoem. Tweede Johannes 7 is geskryf om hulle valse bewering te weerlê.

a Hoewel baie mense die term “tweede koms” gebruik om na Christus se koms te verwys, verskyn dit nie in die Bybel nie.

b Sien The New Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament (1981), bladsy 451 en 470.