Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor vriendskap?

Wat sê die Bybel oor vriendskap?

Die Bybel se antwoord

 Vriendskappe kan ons help om ’n gelukkige en suksesvolle lewe te hê. Goeie vriende bring die beste uit in mekaar en kan maak dat ons beter mense word. – Spreuke 27:17.

 Maar die Bybel sê dat dit belangrik is dat ons versigtig moet wees wanneer ons ons vriende kies. Dit waarsku ons teen die slegte gevolge wanneer ons verkeerde vriende kies (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Sulke vriende kan veroorsaak dat ’n persoon slegte besluite maak of dat hy sy goeie eienskappe verloor.

In hierdie artikel

 Wat maak dat iemand ’n goeie vriend is?

 Die Bybel leer dat goeie vriendskappe op iets meer as net soortgelyke belangstellings of stokperdjies gebaseer moet wees. Byvoorbeeld, Psalm 119:63 sê: “Ek is ’n vriend van almal wat u a vrees en van dié wat u bevele gehoorsaam.” Let op dat die Bybelskrywer gesê het dat hy vriende gekies het wat God gelukkig wil maak en wat volgens Sy standaarde wil lewe.

 Die Bybel beklemtoon ook die eienskappe wat ’n goeie vriend moet hê. Byvoorbeeld:

  •   “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

  •   “Daar is vriende wat mekaar verwoes, maar daar is ’n vriend wat lojaler is as ’n broer.” – Spreuke 18:24.

 Hierdie verse leer ons dat ’n goeie vriend lojaal, liefdevol, goedhartig en vrygewig is. ’n Goeie vriend is iemand op wie ons kan vertrou om ons te help wanneer ons deur moeilike tye gaan. ’n Ware vriend sal moedig genoeg wees om iets te sê wanneer ons iets doen wat onverstandig is of wanneer ons ’n slegte besluit wil maak. – Spreuke 27:6, 9.

 Wat is ’n paar voorbeelde van goeie vriendskappe in die Bybel?

 Die Bybel bevat voorbeelde van goeie vriendskappe tussen mense van verskillende ouderdomme, agtergronde, kulture en posisies van gesag. Kom ons kyk na drie sulke vriendskappe.

  •   Rut en Naomi. Rut was Naomi se skoondogter, en Naomi was waarskynlik baie ouer as Rut. Rut was ook van ’n ander kultuur as Naomi. Al was daar hierdie verskille, het hulle ’n baie goeie en liefdevolle vriendskap gehad. – Rut 1:16.

  •   Dawid en Jonatan. Al was Jonatan heel moontlik 30 jaar ouer as Dawid, sê die Bybel dat daar “’n hegte vriendskap . . . tussen hulle ontwikkel” het. – 1 Samuel 18:1.

  •   Jesus en sy apostels. Jesus het ’n posisie van gesag oor sy apostels gehad omdat hy hulle leermeester en meester was (Johannes 13:13). Maar hy het nie gevoel dat hulle nie goed genoeg was om sy vriende te wees nie. Jesus was eerder na aan diegene wat sy leringe gevolg het. Hy het gesê: “Ek noem julle vriende, want ek het julle alles vertel wat ek by my Vader gehoor het.” – Johannes 15:14, 15.

 Kan ’n persoon God se vriend wees?

 Ja, dit is moontlik vir mense om vriende met God te wees. Die Bybel sê: “Hy is ’n goeie vriend van dié wat reg lewe” (Spreuke 3:32). Met ander woorde, God is vriende met diegene wat probeer om ordentlik en eerlik te wees en wat probeer om volgens sy standaarde van reg en verkeerd te lewe. Byvoorbeeld, die getroue man Abraham word spesifiek God se vriend in die Bybel genoem. – 2 Kronieke 20:7; Jesaja 41:8; Jakobus 2:23.

a Die konteks van hierdie psalm wys dat die “u” in hierdie vers na God verwys.