Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom het ek geen vriende nie?

Waarom het ek geen vriende nie?

Jy is op die Internet en kyk na foto’s van ’n onlangse partytjie. Al jou vriende is daar, en dit is duidelik dat hulle dit geniet. Maar iets is nie daar nie. Of liewer, iemand is nie daar nie—jy!

‘Waarom is ek nie genooi nie?’ wonder jy.

Jou nuuskierigheid verander in bitterheid. Dit voel asof jy in die rug gesteek is! Dit is asof al jou verhoudings soos ’n kaartehuis inmekaargestort het. Jy word oorweldig deur ’n gevoel van eensaamheid, en jy vra jou af: ‘Waarom het ek geen vriende nie?’

 Vasvra oor eensaamheid

 Waar of onwaar

  1.   As jy baie vriende het, sal jy nooit eensaam wees nie.

  2.   As jy by ’n sosiale netwerk aansluit, sal jy nooit eensaam wees nie.

  3.   As jy baie teksboodskappe stuur, sal jy nooit eensaam wees nie.

  4.   As jy dinge vir ander doen, sal jy nooit eensaam wees nie.

 Die antwoord op al vier verklarings is onwaar.

 Waarom?

 Die feite oor vriendskap en eensaamheid

  •   Om baie vriende te hê, verseker nie dat jy nooit eensaam sal wees nie.

     “Ek gee om vir my vriende, maar soms dink ek dat hulle nie vir my omgee nie. Jy kan verskriklik eensaam voel wanneer jy deur vriende omring is, maar dit nie lyk of hulle jou ook liefhet of nodig het nie.”—Anne.

  •   Om by ’n sosiale netwerk aan te sluit, verseker nie dat jy nooit eensaam sal wees nie.

     “Party mense maak vriende bymekaar soos ander beeldjies bymekaarmaak. Maar om ’n kamer vol versamelstukke te hê, het nog nooit enigiemand geliefd laat voel nie. As jy nie sinvolle verhoudings het nie, beteken aanlyn vriende vir jou net so min soos lewelose beeldjies.”—Elaine.

  •   Om alewig teksboodskappe te stuur, verseker nie dat jy nooit eensaam sal wees nie.

     “Soms, wanneer jy eensaam voel, kyk jy kort-kort na jou foon om te sien of enige van jou vriende vir jou ’n boodskap gestuur het. En as jy alreeds eensaam voel en sien dat niemand jou probeer kontak nie, kan dit jou selfs erger laat voel!”​—Serena.

  •   Om dinge vir ander te doen, verseker nie dat jy nooit eensaam sal wees nie.

     “Ek het nog altyd probeer om vrygewig teenoor my vriende te wees, maar ek sien dat hulle my nie op dieselfde manier behandel nie. Ek is nie spyt dat ek vrygewig teenoor hulle is nie, maar dis vir my ’n bietjie vreemd dat hulle mý nooit regtig so behandel nie.”​—Richard.

 Die slotsom: Eensaamheid is in die eerste plek ’n denkwyse. “Dit kom van binne ’n mens, nie van buite nie”, sê ’n jong vrou met die naam Jeanette.

 Wat kan jy doen as jy vriendeloos en eensaam voel?

 Hoe om die stryd te wen

Probeer om jou selfvertroue op te bou.

 “Eensaamheid is soms die gevolg van onsekerhede. Dis moeilik om uit te reik en vriendskappe aan te knoop wanneer jy nie voel dat jy iemand anders se belangstelling werd is nie.”​—Jeanette.

 Die Bybel sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Galasiërs 5:14). Om gesonde vriendskappe te geniet, moet ons ’n mate van eiewaarde hê—natuurlik sonder om egoïsties te word.—Galasiërs 6:3, 4.

Vermy selfbejammering.

 “Eensaamheid is soos dryfsand. Hoe meer jy daarin rondwoel, hoe moeiliker is dit om daaruit te kom. As jy toelaat dat dit jou denke oorneem, sal jy gou ’n volskaalse selfbejammeringspartytjie hê wat niemand anders wil bywoon nie.”—Erin.

 Die Bybel sê: “Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Die feit is dat ons, wanneer ons te veel op onsself konsentreer, minder medelye vir ander het, en dan is dit minder waarskynlik dat ons vriende sal aantrek (2 Korintiërs 12:15). Kom ons wees eerlik: As jy jou sukses meet aan hoe ander optree, sal jy beslis misluk! In werklikheid plaas stellings soos “Niemand bel my ooit nie” en “Niemand nooi my ooit uit nie” jou geluk in ander se hande. Gee jy hulle dan nie te veel mag nie?

Moenie tevrede wees met sommer enigiemand as ’n vriend nie.

 “Eensame mense soek aandag, en hulle kan ’n punt bereik waar hulle nie omgee wie vir hulle daardie aandag gee nie. Hulle wil net voel dat iemand vir hulle omgee. Maar party mense laat jou dink dat hulle omgee en dan misbruik hulle jou. Dan sal jy eensamer voel as ooit tevore.”—Brianne.

 Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Iemand wat honger ly, sal byna enigiets eet. Net so sal mense wat na vriende honger, dalk op al die verkeerde plekke na vriendskap soek. Hulle kan selfs ’n maklike teiken vir manipuleerders word en dink dat sulke verhoudings normaal is en dat hulle niks beters moet verwag nie.

 Die slotsom: Almal word soms eensaam; party meer as ander. Maar hoewel eensaamheid ’n verpletterende gevoel kan wees, is dit op die ou einde net dít—’n gevoel. Ons gevoelens word gewoonlik voorafgegaan deur ons gedagtes, en ons kan ons gedagtes beheer.

 Wees ook realisties in wat jy van ander verwag. “Nie almal gaan vir ewig jou beste vriend bly nie”, sê Jeanette, wat vroeër aangehaal is, “maar jy sal mense vind wat vir jou omgee. En dít is genoeg. Dit is wat help om eensaamheid weg te hou.”

 Het jy meer hulp nodig? Lees “ Hoe om vrese oor vriendskap te bowe te kom”. Laai ook die PDF af: “Wat jy kan doen as jy eensaam voel.