Spring na inhoud

Het Jehovah se Getuies reëls vir paartjies wat wil uitgaan?

Het Jehovah se Getuies reëls vir paartjies wat wil uitgaan?

 Jehovah se Getuies glo dat die beginsels en opdragte in die Bybel ons kan help om besluite te neem wat God gelukkig sal maak én ons tot voordeel sal strek (Jesaja 48:17, 18). Hierdie beginsels en opdragte kom nie van ons af nie, maar ons lewe daarvolgens. Kyk hoe party daarvan ’n persoon kan help wat met iemand van die teenoorgestelde geslag wil uitgaan. a

  •   Die huwelik is ’n permanente verbintenis (Matteus 19:6). Om met iemand uit te gaan, word deur Jehovah se Getuies as ’n stap tot die huwelik beskou, en daarom is dit vir ons ’n ernstige saak.

  •   Slegs mense wat oud genoeg is om te trou, mag met mekaar uitgaan. Hulle is “verby die bloei van die jeug”, oftewel verby die tyd wanneer seksuele begeertes die sterkste is.—1 Korintiërs 7:36.

  •   Diegene wat met mekaar uitgaan, moet vry wees om te trou. Party mense wat wetlik geskei is, is volgens God nie vry om weer te trou nie, aangesien sy standaarde bepaal dat seksuele onsedelikheid die enigste geldige rede vir egskeiding is.—Matteus 19:9.

  •   Christene wat wil trou, word beveel om slegs ’n medegelowige as ’n huweliksmaat te kies (1 Korintiërs 7:39). Volgens Jehovah se Getuies verwys hierdie bevel nie net na ’n persoon wat ons oortuigings respekteer nie, maar na iemand wat as ’n gedoopte Getuie dieselfde oortuigings as ons het en daarvolgens lewe (2 Korintiërs 6:14). God het sy aanbidders nog altyd beveel om slegs met iemand van dieselfde geloof te trou (Genesis 24:3; Maleagi 2:11). Hierdie opdrag is ook prakties, soos hedendaagse navorsers bevind het. b

  •   Kinders moet gehoorsaam wees aan hulle ouers (Spreuke 1:8; Kolossense 3:20). As kinders nog by die huis woon, sluit hierdie bevel in dat hulle hulle ouers se besluite moet gehoorsaam wanneer hulle met iemand wil uitgaan. Dit sluit moontlik die ouderdom in waarop ’n seun of dogter met iemand mag begin uitgaan en watter bedrywighede toegelaat sal word.

  •   In ooreenstemming met die Bybel se riglyne kies Getuies self of hulle met iemand wil uitgaan en met wie. Dit stem ooreen met die beginsel: “Elkeen sal sy eie vrag [van verantwoordelikheid] dra” (Galasiërs 6:5). Tog besluit baie wyslik om raad te vra by volwasse Getuies wat hulle belange op die hart dra.—Spreuke 1:5.

  •   Baie gebruike wat algemeen is onder paartjies wat uitgaan, is in werklikheid ernstige sondes. Die Bybel beveel ons byvoorbeeld om seksuele onsedelikheid te vermy. Dit verwys nie net na geslagsomgang nie, maar ook na ander onrein dade tussen ongetroudes, soos om aan ’n ander persoon se geslagsorgane te vat of om orale of anale seks te hê (1 Korintiërs 6:9-11). Selfs gedrag wat passie opwek sonder om oor te gaan na voorhuwelikse seks, is “onreinheid” wat God mishaag (Galasiërs 5:19-21). Onsedelike gesprekke wat uit “onwelvoeglike praatjies” bestaan, word ook in die Bybel veroordeel.—Kolossense 3:8.

  •   Die hart, of die innerlike mens, is bedrieglik (Jeremia 17:9). Dit kan ’n persoon beweeg om dinge te doen wat hy weet verkeerd is. Om te verhoed dat hulle harte hulle mislei, moet paartjies wat uitgaan, nie alleen wees in ’n situasie wat hulle in die versoeking kan bring nie. Hulle sal dalk besluit om redelike voorsorgmaatreëls te tref soos om in die geselskap van ’n groep voorbeeldige vriende of ’n gepaste chaperone te bly (Spreuke 28:26). Ongetroude Christene wat ’n huweliksmaat soek, besef hoe gevaarlik dit is om aanlyn met iemand uit te gaan, veral weens die gevare wat dit inhou om ’n verhouding aan te knoop met ’n persoon van wie hulle baie min weet.—Psalm 26:4.

a Om met iemand uit te gaan, is deel van party kulture, maar nie van ander nie. Die Bybel sê nie dat ons dit moet doen of dat dit die enigste manier is om ’n huweliksmaat te vind nie.

b ’n Artikel in die tydskrif Marriage & Family Review het byvoorbeeld gesê dat “drie kwalitatiewe studies van lang huwelike te kenne gegee het dat ooreenkomste in godsdienstige oriëntasie, geloof en godsdiensoortuigings sleutelfaktore in lang huwelike (25-50+ jaar) is.”—Jaargang 38, nommer 1, bladsy 88 (2005).