Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Om met iemand uit te gaan – Deel 3: Moet ons opbreek?

Om met iemand uit te gaan – Deel 3: Moet ons opbreek?

 Jy gaan al ’n ruk lank met iemand uit, maar jy begin om twyfelgedagtes te kry. Moet jy met die verhouding voortgaan of dit beëindig? Hierdie artikel sal jou help om ’n besluit te maak.

In hierdie artikel

 Hoe om twyfelgedagtes te hanteer

 Nadat ’n jong man en vrou al ’n ruk lank uitgaan, kom hulle dalk agter dat hulle meer van mekaar verskil as wat hulle eers gedink het. Byvoorbeeld:

  •   Die een geniet dit om strand toe te gaan; die ander een verkies om staproetes te doen.

  •   Die een is ’n ekstrovert; die ander een is ’n introvert.

  •   Die een is dikwels oneerlik; die ander een is altyd eerlik.

 Let op dat elkeen van hierdie situasies anders is. Die eerste situasie gaan oor verskillende belangstellings; die tweede situasie gaan oor verskillende eienskappe; die derde situasie gaan oor verskillende waardes.

 Iets om oor te dink: Watter een van hierdie drie verskille sal vir jou die moeilikste wees om te hanteer as julle twee sou trou? Vir watter een, indien enige, kan julle albei aanpassings maak?

 ’n Man en vrou kan verskillende belangstellings of eienskappe hê en nog altyd ’n gelukkige huwelik hê. Om die waarheid te sê, om bymekaar te pas beteken nie dat julle identies moet wees nie. In party gevalle kan ’n man en vrou leer om in dieselfde dinge belang te stel as hulle huweliksmaat. Of hulle kan selfs bymekaar se eienskappe leer. a

 Aan die ander kant is dit baie belangrik dat die persoon met wie jy trou, dieselfde waardes as jy het. Dit het te doen met jou oortuigings wanneer dit kom by jou godsdiens, sedes en wat reg en verkeerd is. As hy of sy nie dieselfde waardes het nie, is dit definitief ’n rooi vlaggie.

 Byvoorbeeld, dink aan as julle godsdienswaardes van mekaar verskil. Die boek Fighting for Your Marriage sê: “Navorsing wys herhaaldelik dat paartjies wat aan verskillende godsdienste behoort, meer geneig is om te skei.”

 Bybelwaarheid: “Moenie as gelykes met ongelowiges probeer saam werk nie, want dit kan nie gedoen word nie.” – 2 Korintiërs 6:14, Good News Translation.

 Hoe om die besluit te maak

 Die Bybel sê dat dié wat trou, “probleme [sal] ondervind” (1 Korintiërs 7:28). So moenie verbaas wees as jy nou al probleme ondervind terwyl julle uitgaan nie.

 Klein argumente beteken nie noodwendig dat die verhouding nie suksesvol kan wees nie. Die vraag is: Kan julle dit op ’n vreedsame manier oplos? Julle al twee sal beslis hierdie vaardigheid nodig hê as julle trou.

 Bybelwaarheid: “Wees goed vir mekaar, betoon intense medelye, en vergewe mekaar vryelik.” – Efesiërs 4:32.

 Aan die ander kant kan gereelde of ernstige argumente wys dat julle twee net nie bymekaar pas nie. As dit die geval is, is dit beter om dit nou uit te vind eerder as nadat julle getrou het!

Gereelde of ernstige argumente kan wys dat julle nie bymekaar pas nie

 Die slotsom: As jy ernstige twyfelgedagtes het oor die persoon met wie jy uitgaan of selfs oor of jy reg is om te trou, moet jy nie daardie twyfelgedagtes ignoreer nie!

 Bybelwaarheid: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra.” – Spreuke 22:3.

 As jy besluit om op te breek

 Om met iemand op te breek, kan baie seermaak. Maar as een of al twee van julle aanhou om ernstige twyfelgedagtes oor die verhouding te hê, is dit dalk beter om die verhouding te beëindig.

 Hoe moet jy dit doen? Tensy daar ’n goeie rede is, is dit beter om nie die verhouding met ’n teksboodskap of e-pos te beëindig nie. Kies eerder die regte tyd en plek om saam oor hierdie belangrike saak te praat.

 Bybelwaarheid: “Praat die waarheid met mekaar.” – Sagaria 8:16.

 Beteken dit dat jy ’n mislukking is wanneer jy met iemand opbreek? Glad nie. Onthou, om met iemand uit te gaan moet jou help om ’n besluit te maak – of jy met die persoon wil trou of nie. Selfs al eindig die verhouding, kan jy nog steeds waardevolle lesse uit die ondervinding leer.

 Vra jou af: ‘Wat het ek oor myself uit hierdie verhouding geleer? Het hierdie ondervinding my geleer dat daar sekere dinge is waaraan ek moet werk voordat ek reg is om te trou? Wat sal ek anders doen as ek weer besluit om met iemand uit te gaan?’

a Om beter te verstaan hoe hierdie uitdagings ’n man en vrou kan affekteer, sien die artikels “Hulp vir die gesin – Hoe om verskille te hanteer” en “Hulp vir die gesin – ’n Beter siening van irriterende gewoontes”.