Spring na inhoud

Eenduisend Koninkryksale—en die getal styg steeds

Eenduisend Koninkryksale—en die getal styg steeds

In Augustus 2013 het Jehovah se Getuies in die Filippyne ’n mylpaal bereik toe die duisendste Koninkryksaal as deel van ’n unieke bouprogram voltooi is. Soos in baie lande die geval is, het gemeentes in die Filippyne dikwels nie die geld of bouvaardighede gehad om hulle eie permanente Koninkryksaal sonder hulp te bou nie. Party het jare lank in privaat huise bymekaargekom, terwyl ander in klein bamboeshutte vergader het.

Weens ’n bestendige toename in die aantal Getuies van Jehovah in die Filippyne asook in baie ander lande was daar ’n groter behoefte aan Koninkryksale. In 1999 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dus ’n program begin om Koninkryksale in lande met beperkte middele te bou. Onder hierdie reëling kan plaaslike Getuies bydra wat hulle kan, en fondse wat in ander lande bygedra is, word hierby gevoeg. Opgeleide konstruksiewerkers word in groepe verdeel om gemeentes hulle eie Koninkryksaal te help bou. In November 2001 het hierdie internasionale program in die Filippyne in werking getree.

Iluminado is ’n lid van die gemeente in Marilao, Bulacan, waar die duisendste Koninkryksaal gebou is. Hy het gesê: “Ek het werklik gesien dat ons ’n Christenbroederskap is. Daar was soveel vrywilligers—mans en vroue, jonk en oud. Ons het saam in die skroeiende son gewerk. En hoewel ons ná ’n lang dag se werk moeg was, het dit ons bly gemaak om te sien wat ons saam verrig het.”

Mense wat nie Getuies is nie, is ook beïndruk deur die vrywilligers se pogings. Die eienaar van ’n vragmotor wat sand en gruis by die bouterrein afgelewer het, het gesê: “Julle is soos miere—daar is so baie van julle! Almal help. Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

Die voltooide Koninkryksaal

Die vrywilligers het die gebou in minder as ses weke opgerig. Omdat die Koninkryksaal so vinnig gebou is, kon die gemeentelede voortgaan om ’n volle aandeel te hê aan die belangrike werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14.

Ellen, nog ’n lid van die plaaslike gemeente, sê: “In ons vorige Koninkryksaal was daar nie vir ons almal plek nie, en baie van ons moes buite sit. Die nuwe Koninkryksaal is pragtig en baie gemakliker. Nou kan ons almal selfs groter voordeel trek uit die onderrigting en aanmoediging wat ons by ons vergaderinge ontvang.”