Spring na inhoud

Koninkryksale vir ’n miljoen Getuies

Koninkryksale vir ’n miljoen Getuies

Tussen 1999 en 2015 het Jehovah se Getuies meer as 5 000 Koninkryksale in Sentraal-Amerika a en Mexiko gebou. En om voorsiening te maak vir die miljoen Getuies en ander wat ons vergaderinge in hierdie streek bywoon, is meer as 700 Koninkryksale nog nodig.

In die verlede het gemeentes in hierdie deel van die wêreld dit moeilik gevind om plekke van aanbidding te bou. Byvoorbeeld, in Mexiko het die meeste van die Getuies hulle vergaderinge in privaat wonings gehou. Waarom? Een rede was omdat die wet voorgeskryf het dat godsdiensorganisasies nie eiendom mag besit nie. Maar in die 1990’s het die wet verander, en Jehovah se Getuies het baie Koninkryksale begin bou. Maar dit het dikwels maande geneem om elke saal te bou.

Vordering word bespoedig

Hierdie proses is in 1999 bespoedig toe Koninkryksaalbougroepe in werking getree het onder ’n nuwe program om Koninkryksale in lande met beperkte middele te bou, insluitende Mexiko en die sewe lande van Sentraal-Amerika. Sedert 2010 het die takkantoor in Mexiko toesig gehou oor die bouwerk in die hele streek.

Bouknegte kom voor spesiale uitdagings te staan wanneer hulle Koninkryksale in afgeleë gebiede bou. In Panama moes bouknegte byvoorbeeld sowat drie uur per boot al langs die kus reis om by een projek uit te kom. En in Chiapas, ’n staat in Mexiko, moes die bougroep ’n klein vliegtuig gebruik om boumateriaal na ’n afgeleë terrein te neem.

Voordele van nuwe Koninkryksale

Selfs mense wat nie Getuies is nie, is dikwels gretig om ’n nuwe Koninkryksaal in hulle gemeenskap te sien. ’n Man van Honduras het byvoorbeeld gesê dat ander mense, voordat die Getuies ’n Koninkryksaal in sy gebied gebou het, ’n nagklub op die perseel wou bou. Maar hy wou nie hê dat hulle dit moes doen nie. Toe Jehovah se Getuies vir hom sê dat hulle ’n Koninkryksaal op die perseel wil bou, het hy opgewonde gesê: “Wat ’n seën is dit tog!”

Op baie plekke is mense beïndruk deur die ywer van die werkers. ’n Man van Guatemala het gesê: “In ons kultuur werk vroue gewoonlik net in die kombuis. Maar hier doen vroue dieselfde werk as die mans. Ek is verbaas om te sien hoe vroue staalraamwerk aanmekaar sit en mure pleister. Dit is indrukwekkend!” Party mense in die omgewing het selfs al kos en verversings vir die bouknegte gekoop.

Baie mense is ook beïndruk deur die ontwerp van ons Koninkryksale. ’n Ingenieur in Nicaragua het vir die burgemeester van ’n stad gesê dat die plaaslike Koninkryksaal ’n pragtige gebou is wat met goeie gehalte materiaal gebou is. Trouens, hy het gesê dat die gebou van beter gehalte is as enige ander gebou in die stad!

Jehovah se Getuies is natuurlik ook baie bly om geskikte plekke van aanbidding te hê. Hulle het agtergekom dat Bybelstudente meer geneig is om gemeentelike vergaderinge by te woon nadat ’n Koninkryksaal gebou is. Gemeentelede in Mexiko wat bouknegte gehelp het om ’n Koninkryksaal te bou, het hulle waardering met die volgende woorde opgesom: “Ons dank Jehovah vir die voorreg wat ons gehad het om ’n Koninkryksaal te bou wat sy naam eer en verheerlik.”

a Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary, die 11de Uitgawe, definieer Sentraal-Amerika as die republieke van Guatemala, El Salvador, Honduras, Nicaragua, Costa Rica, Panama en Belize.