Spring na inhoud

Nigerië voltooi 3 000 Koninkryksale

Nigerië voltooi 3 000 Koninkryksale

Op Saterdag 1 Maart 2014 het ’n vreugdevolle skare van 823 mense by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Beninstad bymekaargekom om ’n mylpaal in Nigerië te vier. Sedert 1999, toe die reëling om Koninkryksale in lande met beperkte middele te bou, begin het, het Jehovah se Getuies 3 000 Koninkryksale in hierdie land gebou.

Ou Koninkryksaal

Die vergadering het ’n opsomming ingesluit van die werk wat sedert die 1920’s verrig is om vergaderplekke vir gemeentes in Nigerië te voorsien. Aanvanklik is huise en gehuurde sale gebruik. Die eerste plek in Nigerië waarvan ons weet wat uitsluitlik vir vergaderinge van Jehovah se Getuies gebruik is, is ’n saal wat omstreeks 1935 in die stad Ilesa gebou is. Tussen 1938 en 1990 het die aantal gemeentes byna tweehonderdvoudig vermeerder, van 14 tot 2 681, en baie van hulle het gesukkel om vergaderplekke te vind. Party Koninkryksale is deur ses gemeentes gebruik. Elders was daar nie genoeg plek in die saal vir almal wat die vergaderinge bygewoon het nie—mense moes buite staan en deur die vensters na die vergaderinge luister. Intussen het baie gemeentes nog in huise en klaskamers bymekaargekom.

Nuwe Koninkryksaal

In 1990 het die takkantoor van Jehovah se Getuies lenings deur middel van die Koninkryksaalfonds begin voorsien om die oprigting van sale te ondersteun. Teen 1997 het Streekboukomitees 105 gemeentes gehelp om ’n saal te bou of hulle saal op te knap. Van 1997 tot 1999 is 13 sale gebou wat gewoonlik tussen 7 en 15 dae geneem het om te voltooi.

Maar ten spyte van die versnelde bouwerk kon daar nog steeds nie tred gehou word met die toename in die aantal Getuies van Jehovah in Nigerië nie. In April 1998 het die takkantoor geskat dat daar ’n tekort aan 1 114 Koninkryksale in die land is.

Don Tros, ’n lid van die Takkomitee in Nigerië, het in sy toespraak by die spesiale vergadering in Beninstad vir die gehoor gesê: “Dit was ’n ontsaglike taak! Ons het gewonder: ‘Hoe sal ons dit ooit voltooi?’” In 1999 is die vraag beantwoord toe Koninkryksaalbougroepe van ses tot agt lede gemeentes regoor die land begin help het. Deur eenvoudige ontwerpe te gebruik, het hulle die afgelope 14 jaar elke maand gemiddeld 17 sale gebou.

Nadat broer Trost die gehoor geprys het vir wat bereik is, het hy daarop gewys dat daar nog baie is om te doen. Gedurende 2013 het die gemiddelde aantal Getuies van Jehovah in Nigerië met meer as 8 000 toegeneem. “Nog 100 Koninkryksale sal elke jaar gebou moet word om in die toekomstige groei te voorsien”, het hy gesê. In 2013 was daar ’n hoogtepunt van 351 000 Getuies in meer as 5 700 gemeentes in Nigerië.