Spring na inhoud

13 JUNIE 2022
CHILI

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Mapudungun vrygestel

Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Mapudungun vrygestel

Op 5 Junie 2022 het broer Jason Reed, ’n lid van die Takkomitee in Chili, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Mapudungun in digitale en gedrukte formaat vrygestel. Gemeentes regoor die land waar daar Mapudungun gepraat word, is genooi om die program by te woon deur middel van videoverbinding. Altesaam het omtrent 800 mense die program bygewoon.

’n Suster is baie gelukkig omdat sy ’n nuwe Bybel gekry het

Die meerderheid van die Mapuche-volk woon in die sentrale en suidelike dele van Chili en Argentinië, tussen die Atlantiese en die Stille Oseaan. In die streek is daar inheemse woude, aktiewe vulkane, die Andesgebergte en uitgestrekte vlaktes. Die Mapuche-volk is baie gasvry en het diep respek vir heilige dinge.

Dele van die Bybel is vanaf 1901 in Mapudungun beskikbaar. In 1997 is ’n volledige weergawe van die Christelike Griekse Geskrifte deur ’n Bybelgenootskap uitgegee. Maar ’n akkurater vertaling was nodig. Byvoorbeeld, die 1997-weergawe gebruik ’n woord wat “kruis” beteken om te beskryf hoe Jesus gesterf het. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik die Mapudungun-woord vir “stomp”, wat wys dat Jesus aan ’n regop paal gesterf het.

Dit is interessant dat terwyl die Nuwe Wêreld-vertaling in digitale formaat vrygestel is, die gedrukte weergawe op dieselfde tyd uitgedeel is aan elke persoon wat die videoprogram by die 23 Koninkryksale gekyk het. Broer Jorge González, ’n lid van die Takkomitee in Chili, het verduidelik: “Die Mapuche-volk vertrou nie gewoonlik heilige inligting, soos die Woord van God, as dit in digitale formaat is nie. So ons kan verwag dat baie mense graag ’n gedrukte weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Mapudungun sal wil hê.”

Ons bid dat hierdie Bybelvrystelling selfs meer mense uit “al die nasies” sal help om Jehovah te leer ken en hom te aanbid. – Jesaja 2:2.