Spring na inhoud

Wie of wat is engele?

Wie of wat is engele?

Die Bybel se antwoord

 Engele is wesens wat meer krag en groter vermoëns as mense het (2 Petrus 2:11). Hulle bestaan in die hemel, of die geesteryk, wat ’n bestaansryk is wat hoër as die fisiese heelal is (1 Konings 8:27; Johannes 6:38). Daarom word hulle ook geeste genoem.—1 Konings 22:21; Psalm 18:10.

Waar kom engele vandaan?

 God het engele geskep deur middel van Jesus, wat in die Bybel “die eersgeborene van die hele skepping” genoem word. Die Bybel beskryf hoe God Jesus gebruik het om alles te maak en sê: “Deur middel van [Jesus] is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge”, insluitende die engele (Kolossense 1:13-17). Engele trou nie en hulle het nie kinders nie (Markus 12:25). Elkeen van hierdie “seuns van die ware God” is eerder afsonderlik geskep.—Job 1:6.

 Engele is baie lank gelede geskep, voordat die aarde daar was. Toe God die aarde gemaak het, het die engele “begin juig”.—Job 38:4-7.

Hoeveel engele is daar?

 Die Bybel sê nie presies hoeveel engele daar is nie, maar dit sê wel dat daar ’n baie groot hoeveelheid engele is. Die apostel Johannes het byvoorbeeld ’n visioen gehad waarin hy honderdmiljoene engele gesien het.—Openbaring 5:11.

Het elke engel sy eie naam en sy eie persoonlikheid?

 Ja. Die Bybel noem die name van twee engele: Migael en Gabriël (Daniël 12:1; Lukas 1:26). a Ander engele het erken dat hulle name het, maar hulle het nie gesê wat dit is nie.—Genesis 32:29; Rigters 13:17, 18.

 Elke engel het sy eie persoonlikheid. Hulle kan met mekaar kommunikeer (1 Korintiërs 13:1). Hulle kan dink en hulle het die vermoë om God te loof (Lukas 2:13, 14). En hulle het die vryheid om self tussen reg en verkeerd te kies. Ons weet dit omdat party van hulle gesondig het toe hulle gekies het om saam met Satan die Duiwel teen God in opstand te kom.—Matteus 25:41; 2 Petrus 2:4.

Het engele verskillende range?

 Ja. Die engel wat die meeste krag en gesag het, is Migael, die aartsengel (Judas 9; Openbaring 12:7). Serafs is engele met ’n hoë rang wat naby Jehovah se troon dien (Jesaja 6:2, 6). Gerubs is deel van ’n ander hoë rangorde wat spesiale pligte het. Gerubs het byvoorbeeld die ingang na die tuin van Eden bewaak nadat Adam en Eva uit die tuin gesit is.—Genesis 3:23, 24.

Help engele mense?

 Ja. God gebruik sy getroue engele om mense vandag te help.

  •   Engele word deur God gebruik om sy knegte te lei in die predikingswerk van die goeie nuus van die Koninkryk van God (Openbaring 14:6, 7). Hierdie leiding bevoordeel diegene wat die predikingswerk doen sowel as diegene wat die goeie nuus hoor.—Handelinge 8:26, 27.

  •   Engele speel ’n rol daarin om te sorg dat die Christengemeente nie deur goddelose mense beïnvloed word nie.—Matteus 13:49.

  •   Engele lei en beskerm diegene wat aan God getrou is.—Psalm 34:7; 91:10, 11; Hebreërs 1:7, 14.

  •   Die engele sal die mensdom binnekort help wanneer hulle saam met Jesus Christus veg om goddeloosheid uit die weg te ruim.—2 Tessalonisense 1:6-8.

Het elkeen van ons ’n beskermengel?

 Engele help God se knegte wanneer dit by hulle geestelike welsyn kom, maar dit beteken nie noodwendig dat God ’n engel aanstel om elke Christen persoonlik te beskerm nie. b (Matteus 18:10). Engele beskerm God se knegte nie teen elke probleem of versoeking nie. Die Bybel toon dat God dikwels vir ’n persoon “die uitweg” vir ’n probleem sal gee deur hom die wysheid en krag te gee om te volhard.—1 Korintiërs 10:12, 13; Jakobus 1:2-5.

Wanopvattings oor engele

 Wanopvatting: Alle engele is goed.

 Feit: Die Bybel praat van “die bose geesmagte” en “die engele ... wat gesondig het” (Efesiërs 6:12; 2 Petrus 2:4). Hierdie bose engele is demone, wat saam met Satan teen God in opstand gekom het.

 Wanopvatting: Engele kan nie sterf nie.

 Feit: Bose engele, insluitende Satan die Duiwel, sal vernietig word.—Judas 6.

 Wanopvatting: Mense word engele wanneer hulle sterf.

 Feit: God het engele afsonderlik geskep, hulle is nie mense wat opgewek is nie (Kolossense 1:16). Mense wat tot lewe in die hemel opgewek word, ontvang onsterflike lewe van God (1 Korintiërs 15:53, 54). Hulle sal ’n hoër posisie as dié van die engele hê.—1 Korintiërs 6:3.

 Wanopvatting: Engele bestaan om mense te dien.

 Feit: Engele gehoorsaam God se bevele, nie ons s’n nie (Psalm 103:20, 21). Selfs Jesus het erken dat hy God vir hulp sou vra, nie die engele nie.—Matteus 26:53.

 Wanopvatting: Ons kan tot engele bid vir hulp.

 Feit: Gebed tot God is deel van ons aanbidding, wat aan Jehovah God behoort (Openbaring 19:10). Ons moet slegs tot God bid, maar deur Jesus.—Johannes 14:6.

a Party Bybelvertalings gebruik die naam “Lucifer” in Jesaja 14:12. Sommige mense dink dat dit die naam is van die engel wat Satan die Duiwel geword het. Maar die oorspronklike Hebreeuse woord wat hier gebruik word beteken “glansende”. Die konteks toon dat hierdie woord nie na Satan verwys nie, maar na die koningslyn van Babilon, wat deur God verneder sou word vir hulle hoogmoed (Jesaja 14:4, 13-20). Die woord “glansende” is gebruik om die Babiloniese koningslyn te spot nadat dit vernietig is.

b Party dink dat die verslag oor Petrus se vrylating uit die tronk toon dat Petrus ’n persoonlike beskermengel gehad het (Handelinge 12:6-16). Maar toe die dissipels van “[Petrus se] engel” gepraat het, kan dit beteken dat hulle verkeerdelik gedink het dat dit ’n engeleboodskapper was wat Petrus verteenwoordig het wat na hulle toe gekom het, en nie Petrus self nie.