Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou ek word afgeknou?

Sê nou ek word afgeknou?

 Afknouery is ’n ernstige saak. Volgens ’n Britse studie het afknouery blykbaar ’n rol gespeel in meer as 40 persent van die selfmoorde onder jongmense waaroor die land se media berig het.

 Wat is afknouery?

 Afknouery sluit meer in as fisiese aanvalle. Dit kan ook die volgende insluit.

  •   Beledigings. “Meisies kan uiters gemene dinge sê,” sê die 20-jarige Celine. Ek sal nooit vergeet wat hulle my alles genoem het of wat hulle vir my gesê het nie. Hulle het my nutteloos, ongeliefd en niks werd laat voel. Ek sou dit verkies het as hulle my eerder ’n blou oog gegee het.”

  •   Verstoting. “My skoolmaats het my begin vermy,” sê die 18-jarige Haley. “Hulle het gedurende pouse gemaak asof daar nie plek by hulle tafel is nie, sodat ek nie by hulle kon sit nie. Ek het die hele jaar lank gehuil en alleen geëet.”

  •   Kuberafknouery. “Met net ’n paar toetse op ’n rekenaar,” sê die 14-jarige Daniel, “kan jy iemand se reputasie verwoes—of selfs sy lewe. Dit klink soos ’n oordrywing, maar dit kan gebeur!” Kuberafknouery sluit ook in om vernederende foto’s of teksboodskappe met ’n selfoon te stuur.

 Waarom knou mense ander af?

 Hier volg ’n paar algemene redes.

  •   Hulle is self afgeknou. “Ek was so siek en sat daarvoor om deur my portuurs afgeknou te word dat ek ander begin afknou het net om in te pas,” erken ’n jong man met die naam Antonio. “Toe ek later daarop teruggekyk het, het ek besef hoe verkeerd dit was!”

  •   Hulle het slegte rolmodelle. “Jong afknouers behandel ander mense dikwels ... soos hulle hulle ouers, ouer broers en susters of ander gesinslede mense sien behandel,” skryf Jay McGraw in sy boek Life Strategies for Dealing With Bullies.

  •   Hulle gedra hulle meerderwaardig—en tog voel hulle onseker. “Kinders wat ander afknou, gedra hulle meerderwaardig, maar dit is dikwels pure skyn in ’n poging om groot pyn en ’n minderwaardigheidsgevoel te verberg,” sê Barbara Colorose in haar boek The Bully, the Bullied, and the Bystander.

 Wie is die waarskynlikste teiken?

  •   Alleenlopers. Party jongmense wat nie sosiale vaardighede het nie, sonder hulle van ander af en word maklike teikens vir afknouers.

  •   Jongmense wat as anders beskou word. Party jongmense word afgeknou weens hulle voorkoms, ras of godsdiens of selfs omdat hulle ’n gebrek het—enigiets waarop die afknouer kan pik.

  •   Jongmense wat ’n gebrek aan selfvertroue het. Afknouers kan sien wanneer iemand min van homself dink. Sulke persone is dikwels maklike teikens, aangesien hulle waarskynlik nie sal terugbaklei nie.

 Wat kan jy doen as jy afgeknou word?

  •   Moenie reageer nie. “Afknouers wil weet dat hulle daarin geslaag het om jou sleg te laat voel,” sê ’n jong vrou met die naam Kylie. “As jy nie reageer nie, verloor hulle belangstelling.” Die Bybel sê: “Hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm.”—Spreuke 29:11.

  •   Moenie met gelyke munt terugbetaal nie. Wraak sal die probleem vererger, nie oplos nie. Die Bybel sê: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie.”—Romeine 12:17; Spreuke 24:19.

  •   Vermy moeilikheid. Vermy afknouers en situasies waarin jy afgeknou kan word.—Spreuke 22:3.

  •   Reageer op onverwagte wyse. Die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer woede af.”—Spreuke 15:1.

  •   Gebruik humor. As ’n afknouer byvoorbeeld sê dat jy vet is, kan jy eenvoudig jou skouers optrek en sê: “Ek kan seker ’n paar kilogram verloor!”

  •   Loop weg. “As jy stilbly, wys jy dat jy volwasse is en sterker is as die persoon wat jou teister,” sê die 19-jarige Nora. “Dit openbaar selfbeheersing—iets wat die afknouer nie het nie.”

  •   Werk aan jou selfvertroue. “Afknouers sien as jy ongemaklik voel,” sê ’n meisie met die naam Rita, “en hulle kan dit gebruik om enige selfvertroue wat jy het, af te breek.”

  •   Vertel iemand daarvan. Volgens een opname vertel meer as die helfte van alle slagoffers wat aanlyn afgeknou word, nie wat gebeur nie, moontlik omdat hulle skaam is (veral seuns) of bang is vir wraak. Maar onthou, afknouers kan net voortgaan as niemand iets daaroor sê nie. Om daaroor te praat, kan die eerste stap wees om die nagmerrie te beëindig.