Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is homoseksualiteit verkeerd?

Is homoseksualiteit verkeerd?

 “Terwyl ek grootgeword het, was ek aangetrokke tot persone van dieselfde geslag. Dit was vir my baie moeilik. Ek het altyd gedink dat dit net ’n fase is, maar ek worstel nog steeds met daardie gevoelens.”​—David, 23.

 David is ’n Christen wat graag God se hart wil bly maak. Kan hy dit doen terwyl hy aangetrokke is tot persone van dieselfde geslag? Hoe voel God regtig oor homoseksualiteit?

 Wat sê die Bybel?

 Mense se gesindhede oor homoseksualiteit verskil dalk van kultuur tot kultuur of van geslag tot geslag. Maar Christene se beskouing word nie bepaal deur gewilde opinies of word nie “hiernatoe en daarnatoe gevoer . . . deur elke wind van lering” nie (Efesiërs 4:14). Hulle beskouing van homoseksualiteit (en enige ander soort gedrag) is eerder op Bybelstandaarde gegrond.

 Die Bybel se standaard oor homoseksualiteit is duidelik. God se Woord sê:

  •  “Jy mag nie by ’n manspersoon gaan lê soos jy by ’n vrou gaan lê nie.”—Levitikus 18:22.

  •  “God [het] hulle, in ooreenstemming met die begeertes van hulle harte . . . aan skandelike geslagsdrifte oorgegee, want ook hulle vroue het die natuurlike gebruik van hulleself verander in een wat teen die natuur is.”—Romeine 1:24, 26.

  •  “Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.”—1 Korintiërs 6:9, 10.

 God se standaarde is in werklikheid op alle mense van toepassing, of hulle nou homoseksuele begeertes het of nie. Die feit is: ons almal moet selfbeheersing hê wanneer ons die begeerte het om iets te doen wat God ongelukkig sal maak.—Kolossense 3:5.

 Beteken dit dat . . . ?

 Beteken dit dat die Bybel ons aanspoor om gays te haat?

 Nee. Die Bybel spoor ons nie aan om enigiemand te haat nie—of die persoon nou gay is of nie. Dit sê eerder dat ons “vrede met alle mense” moet nastreef, ongeag hulle lewenstyl (Hebreërs 12:14). Dit is dus verkeerd om homoseksuele mense te boelie of te mishandel of om betrokke te raak by enige haatmisdade teen hulle.

 Beteken dit dat Christene wette moet teëstaan wat homoseksuele huwelike toelaat?

 Die Bybel toon wat God se standaard vir die huwelik is: die verbintenis tussen ’n man en ’n vrou (Matteus 19:4-6). Maar besprekings oor menslike wette aangaande homoseksuele huwelike is eintlik ’n politieke kwessie, nie ’n sedelike een nie. Die Bybel sê dat Christene nie by die politiek betrokke moet raak nie (Johannes 18:36). Daarom staan hulle nie die regering se wette oor homoseksuele huwelike of homoseksuele gedrag teë nie, maar hulle bevorder dit ook nie.

 Maar sê nou . . . ?

 Maar sê nou iemand maak hom nou skuldig aan homoseksuele gedrag? Kan die persoon verander?

 Ja. Party in die eerste eeu het! Die Bybel sê dat diegene wat hulle skuldig maak aan homoseksuele gedrag, God se Koninkryk nie sal beërf nie. Dan sê dit: “Tog is dit wat party van julle was.”1 Korintiërs 6:11.

 Beteken dit dat diegene wat opgehou het met sulke gedrag glad nie meer enige van die begeertes het wat hulle voorheen gehad het nie? Nee. Die Bybel sê: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word” (Kolossense 3:10). Verandering neem tyd.

 Maar sê nou iemand wat God se standaard wil volg, het nog steeds homoseksuele begeertes?

 Soos met enige verkeerde neiging, kan ’n persoon kies om dit nie te versterk of daarop te reageer nie. Hoe kan ’n mens dit doen? Die Bybel sê: “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.”—Galasiërs 5:16.

 Let op dat die vers nie sê dat die persoon geen vleeslike begeerte sal nie. Hy of sy sal eerder as gevolg van ’n goeie geestelike roetine van Bybelstudie en gebed, die krag hê om hierdie begeertes te weerstaan.

 David, wat aan die begin genoem is, het gevind dat dit waar is—veral nadat hy met sy Christenouers oor sy probleem gepraat het. “Dit was ’n groot las van my skouers af, en ek sou my tienerjare waarskynlik baie meer geniet het as ek vroeër met hulle gepraat het”, sê hy.

 Op die ou end sal ons gelukkiger wees as ons Jehovah se standaarde volg. Ons is oortuig daarvan dat dit ‘reg is en die hart bly maak’. En as ons dit gehoorsaam, lei dit tot “’n groot beloning”!—Psalm 19:8, 11.