Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek verduidelik wat ek omtrent seks glo?

Hoe kan ek verduidelik wat ek omtrent seks glo?

“Wat—jy is nog steeds ’n maagd?”

As jy ’n antwoord wil gee en jou antwoord ja is, sal jy dit dan met selfvertroue wil sê? Hierdie artikel sal jou help!

 Wat is ’n maagd?

 ’n Maagd is iemand wat nog nooit geslagsomgang gehad het nie.

 Maar geslagsomgang is natuurlik nie die enigste vorm van seksuele aktiwiteit nie. Party sê dalk dat hulle “tegnies gesproke ’n maagd is”, want hulle het nie geslagsomgang gehad nie—al is daar byna niks anders wat hulle nog nie gedoen het nie.

 Die woord “seks” kan byvoorbeeld verwys na dinge soos orale seks, anale seks of om iemand anders te masturbeer.

 Die slotsom: Mense wat seks gehad het​—insluitende orale en anale seks, of wat iemand anders gemasturbeer het​—kan nie sê dat hulle maagde is nie.

 Wat sê die Bybel oor seks?

 Die Bybel sê dat seksuele aktiwiteit net mag plaasvind tussen ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is (Spreuke 5:18). Daarom moet iemand wat God wil behaag, nie aan seksuele aktiwiteit deelneem totdat hy of sy trou nie.​—1 Tessalonisense 4:3-5

 Party sê dat die Bybel se beskouing outyds is en glad nie meer prakties is in ons moderne wêreld nie. Maar hou in gedagte dat ons moderne wêreld deur egskeiding, ongewenste swangerskappe en seksueel oordraagbare siektes geteister word. Ons moderne wêreld is beslis nie in ’n posisie om raad te gee oor sedes nie!​—1 Johannes 2:15-17.

 As jy daaraan dink: Die Bybel se sedewet maak sin. Ter toeligting: Veronderstel iemand gee vir jou R1 000 as ’n geskenk. Sal jy die geld van ’n dak afgooi sodat sommer enigiemand wat verbyloop, dit kan optel?

 Jy staan voor ’n soortgelyke besluit aangaande seks. “Ek wil nie my maagdelikheid weggooi nie, en dít op iemand wie se naam ek oor ’n paar jaar dalk nie eens sal onthou nie”, sê die 14-jarige Sierra. Tammy, 17, stem saam. “Seks is ’n gawe wat te spesiaal is om te verkwis”, sê sy.

 Die slotsom: Die Bybel hou maagdelikheid en rein gedrag voor as die standaard vir persone wat nog nie getroud is nie.​—1 Korintiërs 6:18; 7:8, 9.

 Wat glo jy?

  •   Glo jy dat die Bybel se beskouing van seks redelik is of dat dit te streng is?

  •   Glo jy dat seks tussen twee ongetroude mense oukei is as hulle sê dat hulle mekaar werklik liefhet?

 Baie jongmense wat goed oor die saak nagedink het, het tot die slotsom gekom dat maagdelikheid en rein gedrag die beste keuse is. Hulle is nie spyt oor hulle besluit nie en voel ook nie dat hulle iets ontneem is nie. Kyk wat party van hulle sê:

  •  “Ek is bly dat ek ’n maagd is! Daar’s niks fout daarmee om die verstandelike, fisiese en emosionele pyn te vermy wat voorhuwelikse seks meebring nie.”—Emily.

  •  “Ek is bly dat ek nie ’n lys van mislukte seksuele verhoudings het nie, en dit voel wonderlik om te weet dat daar nie eens ’n geringe kans is dat ek ’n seksueel oordraagbare siekte het nie.”—Elaine.

  •  “Ek het al baie meisies van my ouderdom en ouer hoor sê dat hulle spyt is dat hulle seks gehad het en dat hulle wens dat hulle gewag het, en ek wil nie dieselfde fout maak nie.”—Vera.

  •  “Ek het al soveel mense gesien wat emosionele letsels het omdat hulle hulle maagdelikheid verloor het of etlike maats gehad het. Ek dink dit is ’n treurige manier om te lewe.”—Deanne.

 Die slotsom: Jy moet weet wat jy omtrent seks glo voordat jy te staan kom voor die druk of die versoeking om seks te hê.​—Jakobus 1:14, 15.

 Hoe kan jy aan ander verduidelik wat jy glo?

 WWat moet jy sê as iemand jou vra wat jy omtrent seks glo? Dit hang grootliks van die omstandighede af.

 “As iemand my terg, en dít sy enigste beweegrede is, sal ek nie net daar staan met mond vol tande nie. Ek sal sê: ‘Dit het niks met jou te doen nie’, en dan wegstap.”—Corinne.

 “Ongelukkig geniet party kinders by die skool dit om ander af te knou. As dit die rede is waarom hulle vra, sal ek heel moontlik glad nie antwoord nie.”—David.

 Het jy geweet? Jesus het soms stilswye gebruik om spotters te “antwoord”.​—Matteus 26:62, 63.

 Maar sê nou die een wat jou vra, stel opreg belang? As jy dink dat die persoon die Bybel sal respekteer, kan jy verwys na ’n teks soos 1 Korintiërs 6:18, wat sê dat iemand wat voorhuwelikse seks het, teen sy of haar eie liggaam sondig, of dit benadeel.

 Hetsy jy die Bybel onmiddellik gebruik of nie, dit is belangrik dat jy met oortuiging praat. Onthou dat jy alle rede het om trots te wees op jou besluit om sedelik rein te bly.—1 Petrus 3:16.

 “As jy met oortuiging antwoord, toon dit dat jy nie twyfel oor wat jy glo nie en dat jy doen wat jy doen omdat dit reg is, nie net omdat daar vir jou gesê is om dit te doen nie.”—Jill.

 Die slotsom: As jy oortuig is van jou standpunt oor seks, sal jy dit aan ander kan verduidelik. En hulle reaksie sal jou dalk verbaas. “My werksmaats het my selfs geprys vir my maagdelikheid”, sê die 21-jarige Melinda. “Hulle beskou dit nie as vreemd nie. Dit is vir hulle ’n teken van selfbeheersing en goeie sedes.”

 Wenk! As jy hulp nodig het om te besluit wat jy omtrent seks glo, kan jy die werkblad “Hoe om te verduidelik wat jy omtrent seks glo” aflaai. Kyk ook wat die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk sê.

  •   Hoofstuk 24 van Deel 1 het die titel “Sal seks ons verhouding verbeter?

  •   Hoofstuk 5 van Deel 2 het die titel “Waarom moet ek voorhuwelikse seks vermy?

 “Ek hou baie van die redenasies in die ‘Jongmense vra’-boeke. Byvoorbeeld, bladsy 187 van Deel 1 wys dat om voorhuwelikse seks te hê, is soos om ’n kosbare halssnoer verniet weg te gee. Jy maak jouself goedkoop. Bladsy 177 toon dat as jy jou aan voorhuwelikse seks skuldig maak, dit is soos om ’n pragtige skildery as ’n deurmat te gebruik. Maar die illustrasie waarvan ek die meeste hou, is op bladsy 54 van Deel 2. Die byskrif sê: ‘Om voorhuwelikse seks te hê, is soos om ’n geskenk oop te maak voordat dit vir jou gegee is.’ Dis asof jy iets steel wat aan iemand anders behoort—jou toekomstige huweliksmaat.”—Victoria.