Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek oor teksboodskappe weet?

Wat moet ek oor teksboodskappe weet?
  • :-) As teksboodskappe wyslik gebruik word, kan dit ’n uitstekende manier wees om in aanraking met ander te bly.

  • :-( As dit onverstandig gebruik word, kan dit jou vriendskappe—en jou reputasie—verwoes.

Hierdie artikel sal jou help om uit te vind wat jy moet weet omtrent:

Ook in hierdie artikel:

 Aan wie jy teksboodskappe stuur

 Vir baie tieners is teksboodskappe ’n noodsaaklike kommunikasiemiddel. Teksboodskappe stel jou in staat om met ’n wye verskeidenheid mense in aanraking te bly—tensy jou ouers natuurlik beswaar maak.

 “My pa hou nie daarvan wanneer ek en my suster met seuns gesels nie. As ons dit wel doen, moet dit op die landlyn wees, in die sitkamer en terwyl ander daar is.”—Lenore.

 Wat jy moet weet: As jy jou nommer sommer net links en regs uitgee, kan dit jou in die moeilikheid laat beland.

 “As jy nie versigtig is vir wie jy jou nommer gee nie, sal jy tien teen een boodskappe of foto’s ontvang wat jy nie wil hê nie.”—Scott.

 “As jy gereeld boodskappe aan iemand van die teenoorgestelde geslag stuur, kan jy baie gou emosioneel geheg raak aan daardie persoon.”—Steven.

 Die Bybel sê:Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Deur ’n paar voorsorgmaatreëls te tref, kan jy jouself baie pyn spaar.

 Ware verhaal: “Ek en ’n seun was vriende, en ons het baie boodskappe aan mekaar gestuur. Ek het gedink dat ons maar net goeie vriende is. Ek het nie gedink dat dít ’n probleem is nie, totdat hy vir my gesê het dat hy romantiese gevoelens vir my ontwikkel het. As ek nou terugdink, besef ek dat ek nie so baie met hom moes uitgehang het en so baie boodskappe aan hom moes gestuur het nie.”—Melinda.

 Dink hieroor na: Watter uitwerking dink jy het dit op hulle vriendskap gehad toe hy vir Melinda gesê het hoe hy oor haar voel?

 Herskryf die draaiboek! Wat kon Melinda anders gedoen het sodat sy en die seun net vriende kon gebly het?

 Wat jou teksboodskappe bevat

 Dis so maklik om teksboodskappe te stuur—en lekker om dit te ontvang—dat dit maklik is om te vergeet dat mense boodskappe verkeerd kan verstaan.

 Wat jy moet weet: Woorde in ’n teksboodskap kan misverstaan word.

 “In ’n teksboodskap kan jy nie agterkom wat die ander persoon se emosies en stemtoon is nie—selfs al is daar gesiggies of tekssimbole in die boodskap. Dit kan misverstande veroorsaak.”—Briana.

 “Ek ken meisies wat hulle reputasies geruïneer het en flerries genoem word as gevolg van die teksboodskappe wat hulle aan seuns gestuur het.”—Laura.

 Die Bybel sê: “’n Regverdige mens dink voor hy antwoord” (Spreuke 15:28, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Die les? Lees weer jou boodskap voordat jy dit stuur!

 Wanneer jy teksboodskappe stuur

 Deur gesonde verstand aan die dag te lê, kan jy jou eie reëls vir teksboodskappe opstel—teksetiket, soos sommige dit noem.

 Wat jy moet weet: As jy nie let op jou maniere wanneer jy teksboodskappe stuur nie, kan dit lyk asof jy ongeskik is en sal jy vriende afstoot eerder as aantrek.

 “Dis maklik om teksetiket te vergeet. Soms vind ek dat ek met iemand gesels of aan die etenstafel is, maar terselfdertyd teksboodskappe stuur.”—Allison.

 “Dis gevaarlik om teksboodskappe te stuur terwyl jy bestuur. As jy nie jou oë op die pad hou nie, kan jy ’n ongeluk maak.”—Anne.

 Die Bybel sê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ... ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:1, 7). Dit geld net soseer vir teksboodskappe as vir gewone gesprekke!

 Wenke oor teksboodskappe

Aan wie jy teksboodskappe stuur

  •  ;-) Wees gehoorsaam aan jou ouers se riglyne.—Kolossense 3:20.

  •  ;-) Wees versigtig vir wie jy jou nommer gee. Wanneer jy vriendelik weier om persoonlike inligting—insluitende jou selfoonnommer—vir ander te gee, ontwikkel jy ’n vaardigheid wat jy as ’n volwassene nodig gaan hê.

  •  ;-) Moenie te familiêr raak deur flirterende teksboodskappe te stuur nie. As romantiese gevoelens ontwikkel, stel jy jou net bloot aan frustrasie en hartseer.

 “Ek het ’n goeie rekord by my ouers opgebou met betrekking tot die gebruik van my selfoon, en daarom vertrou hulle my om wyse besluite te neem oor wie se nommer ek op my kontaklys sit.”—Briana.

Wat jou teksboodskappe bevat

  •  ;-) Voordat jy jou boodskap begin tik, vra jou af: ‘Is ’n teksboodskap die regte manier om in hierdie situasie te kommunikeer?’ Dis dalk beter om die persoon te bel of te wag totdat jy persoonlik met hom of haar kan praat.

  •  ;-) Moenie enigiets in ’n teksboodskap skryf wat jy nie self vir die persoon sal sê nie. “As dit nie hardop gesê moet word nie, moet dit ook nie in ’n teksboodskap gesê word nie,” sê die 23-jarige Sarah.

 “Vertel jou ouers daarvan as iemand vir jou prikkelende foto’s stuur. Dit sal as ’n beskerming dien en sal ook jou ouers se vertroue in jou opbou.”—Sirvan.

Wanneer jy teksboodskappe stuur

  •  ;-) Besluit vooraf wanneer jy nie jou selfoon gaan gebruik nie. “Ek hou nie my selfoon by my aan die etenstafel of terwyl ek studeer nie,” sê ’n meisie met die naam Olivia. “Ek sit dit gedurende Christelike vergaderinge af sodat ek nie in die versoeking kom om daarna te kyk nie.”

  •  ;-) Wees bedagsaam (Filippense 2:4). Moenie teksboodskappe stuur terwyl jy met iemand gesels nie.

 “Ek het reëls vir myself neergelê, soos om nie boodskappe te stuur wanneer ek saam met vriende is nie, tensy dit noodsaaklik is. Ek gee ook nie my nommer vir mense met wie ek nie reeds vriende is nie.”—Janelly.