Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek gewig verloor?

Hoe kan ek gewig verloor?

 Moet ek regtig gewig verloor?

 Party tieners sê dat hulle gewig wil verloor. Maar . . .

  •   Baie tieners is meer bekommerd oor hoe hulle lyk as oor hulle gesondheid. Om die kilogramme af te skud, probeer party sekere dinge wat hulle dink hulle vinnig gewig sal laat verloor. Byvoorbeeld, hulle eet nie by elke maaltyd nie of hulle drink dieetpille. Hierdie dinge werk gewoonlik nie en kan selfs gevaarlik wees.

     “Party meisies honger hulleself uit om vinniger resultate te kry. Maar dis gewoonlik sleg vir hulle liggaam, en dan vat dit nog langer vir hulle om te herstel.” – Hailey.

  •   Baie is onnodig bekommerd oor hulle gewig. Daar is niks fout met hulle gewig nie. Maar hulle voel dalk vet omdat hulle hulle met ander jongmense vergelyk. Of hulle vergelyk hulleself met die media se idee van hoe maer ’n mens moet wees.

     “Toe ek 13 jaar oud was, het ek myself met my vriende vergelyk. Ek het gedink dat hulle meer van my sou hou as ek soos hulle gelyk het. Maar dit het beteken dat ek so maer soos ’n riet moes wees.” – Paola.

 Aan die ander kant is daar party jongmense wat regtig gewig moet verloor. ’n Verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie wys dat . . .

  •   Regoor die wêreld is daar amper 340 miljoen jongmense tussen die ouderdom van 5 en 19 wat oorgewig is.

  •   In 1975 was net 4 persent tussen die ouderdom van 5 en 19 oorgewig. Teen 2016 het die getal tot 18 persent gestyg.

  •   In die meeste lande regoor die wêreld is dit algemener dat mense oorgewig is as ondergewig.

  •   In armer lande is daar ook baie mense wat oorgewig is, selfs in gesinne waar party gesinslede ondervoed is.

 Wat is die beste manier om gewig te verloor?

 Watter opsie sou jy kies?

  1.   Om maaltye oor te slaan.

  2.   Om te oefen en gebalanseerd te eet.

  3.   Om dieetpille te drink.

 Korrekte antwoord: Opsie 2: Om te oefen en gebalanseerd te eet.

 Om maaltye oor te slaan of om ’n voedselgroep uit te sny, kan dalk vinnig resultate hê. Maar om dit te doen, is dalk nie gesond nie. En jy sal tien teen een al die gewig optel wanneer jy weer eet soos jy voorheen geëet het.

 Aan die ander kant, as jy dit jou doel maak om gesond te wees, sal jy op jou beste voel en lyk. Dr. Michael Bradley skryf: “Die veiligste en gesondste manier om gewig te verloor wat blywende resultate sal hê . . . is as jy jou leefstyl op so ’n manier verander sodat jy die res van jou lewe daarby kan bly.” a Die punt? As jy gewig moet verloor, is dit dalk nie ’n goeie idee om ’n dieet te volg nie. Verander liewer jou leefstyl.

 Plan van aksie

 Die Bybel sê dat ons “matig in gewoontes” moet wees – en dit sluit ons eetgewoontes in (1 Timoteus 3:11). Dit sê selfs spesifiek dat ons nie te veel moet eet nie (Spreuke 23:20; Lukas 21:34). Onthou hierdie Bybeltekste en probeer die volgende om ’n gesonder leefstyl te hê:

  •   Vind uit wat dit beteken om gesonde eetgewoontes te hê.

     Moenie dinge te ver vat nie. ’n Bietjie kennis oor goeie eetgewoontes kan jou baie help om gesond te eet. En ’n gebalanseerde dieet is een van die beste maniere om jou gewig te beheer.

  •   Oefen gereeld.

     Dink aan dinge wat jy elke dag kan doen om aktief te bly. Byvoorbeeld, klim eerder trappe as om die hysbak te gebruik. Gebruik liewer ’n halfuur van jou tyd om vinnig buite te gaan loop as om videospeletjies te speel.

  •   Vervang gemorskos met gesonde opsies.

     ’n Tiener met die naam Sophia sê: “Ek probeer om gesonde kosse soos vrugte en groente by my te hou. Dan kom ek nie in die versoeking om allerhande dinge te eet wat geen voedingswaarde het nie.”

  •   Eet stadig.

     Party mense eet so vinnig dat hulle nie “hoor” as hulle liggaam vir hulle sê dat hulle vol is nie! So eet stadiger. Wag ’n rukkie voordat jy nog kos opskep. Dan besef jy dalk dat jy nie so honger is as wat jy gedink het nie.

  •   Let op hoeveel kalorieë jy inneem.

     Lees die etiket op die verpakking van kos om te sien hoeveel kalorieë daarin is. Wenk: Versoete koeldrank, kitskos en nagereg kan baie kalorieë hê en veroorsaak dat jy gewig kan optel.

  •   Wees gebalanseerd.

     Sara, 16, sê: “Op een stadium het ek so ’n obsessie gehad om kalorieë te tel dat wanneer ek na ’n bord kos gekyk het, kon ek net syfers sien!” Moenie obsessief kalorieë begin tel nie. Jy kan nou en dan iets lekker eet.

 Wenk: Praat met jou dokter as jy bekommerd is oor jou gewig. Omdat die dokter jou mediese agtergrond ken, kan hy of sy jou help om gesond te lewe op ’n manier wat vir jou werk.

a Uit die boek When Things Get Crazy With Your Teen.