Spring na inhoud

JONGMENSE VRAE

Sê nou my vriend maak my seer?

Sê nou my vriend maak my seer?

 Wat jy moet weet

  •   Geen menseverhouding is sonder probleme nie. Jou goeie vriend — selfs iemand wat jy as jou beste vriend beskou — is onvolmaak, en daarom kan hy dalk iets sê of doen wat jou seermaak. Jy is natuurlik ook onvolmaak. Kan jy in alle eerlikheid sê dat jy nog nooit iemand seergemaak het nie? — Jakobus 3:2.

  •   Die Internet kan dit makliker maak om seer te kry. Byvoorbeeld, ’n tiener met die naam David sê: “As jy aanlyn is en jy sien foto’s van jou vriend waar hy saam met ander kuier, kan jy dalk begin wonder hoekom jy nie genooi was nie. En dan kan jy voel dat hy jou verraai het, en dit kan jou hartseer maak.”

  •   Jy kan leer om oor die probleem te praat.

 Wat jy kan doen

 Ondersoek jouself. Die Bybel sê: “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie, want om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte.” — Prediker 7:9.

 “Soms besef jy later dat die rede hoekom jy ontsteld is, nie eintlik so ’n groot probleem is nie.” — Alyssa.

 Iets om oor te dink: Is jy geneig om oorsensitief te wees? Kan jy leer om ander se onvolmaakthede te verdra? — Prediker 7:21, 22.

 Dink aan die voordele wat dit het wanneer jy iemand vergewe. Die Bybel sê: “Dit is mooi ... om die oortreding oor te sien.” — Spreuke 19:11.

 “Selfs al het jy goeie rede om kwaad te wees, is dit goed om vryelik te vergewe, en dit beteken dat jy die persoon nie heeltyd daaraan sal herinner of hom of haar laat voel dat hulle om verskoning moet vra elke keer as jy dit noem nie. Sodra jy vergewe het, moet jy daarvan vergeet.” — Mallory.

 Iets om oor te dink: Is die situasie regtig so belangrik? Kan jy vergewe sodat daar vrede kan wees? — Kolossense 3:13.

Om elke probleem in ’n vriendskap te bespreek, is soos om heeltyd die deur van ’n warm vertrek oop te maak en koue lug te laat inkom

 Dink aan die ander persoon. Die Bybel sê: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” — Filippense 2:4.

 “Wanneer daar liefde en respek in ’n vriendskap is, het jy goeie rede om probleme vinnig op te los, want hierdie vriendskap beteken vir jou baie. Jy het alreeds baie hard aan die vriendskap gewerk, en jy wil dit nie verloor nie.” — Nicole.

 Iets om oor te dink: Kan jy ten minste probeer om die ander persoon se gevoelens te verstaan? — Filippense 2:3.

 Die slotsom: As jy weet hoe om seergemaakte gevoelens te hanteer, sal dit jou baie help wanneer jy ’n volwassene is. Hoekom leer jy nie nou al hoe om dit te doen nie?