Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie?

Wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie?

 Steven sê: “Nadat ek en my meisie opgebreek het, het dit gevoel asof my lewe uitmekaarval. Dit was die ergste emosionele pyn wat ek nog ooit gevoel het.”

 Het jy al deur so iets gegaan? Dan is hierdie artikel net vir jou.

 Hoe dit voel

 Wanneer ’n verhouding beëindig word, is die kanse goed dat julle al twee gaan seerkry.

  •  As jy die een is wat die verhouding beëindig het, voel jy dalk soos Jasmine. Sy sê: “Dit het my verskriklik gepla dat ek iemand seergemaak het vir wie ek baie omgegee het. Ek wil nooit weer so voel nie.”

  •  As jy nie die een is wat die verhouding beëindig het nie, verstaan jy seker hoekom party mense sê dat dit net so seer is soos wanneer iemand doodgaan. ’n Jong vrou met die naam Janet sê: “Ek het deur al die stadiums van rou en hartseer gegaan. Ek wou nie erken dat dit gebeur het nie, ek het kwaad geword, ek het probeer onderhandel en ek was depressief. Uiteindelik, ná ’n jaar, het ek dit aanvaar.”

 Kortliks: Wanneer ’n verhouding beëindig word, kan dit jou hartseer en moedeloos laat voel. Soos een Bybelskrywer gesê het: “’n Verslae gees droog die gebeente uit.”—Spreuke 17:22.

 Wat jy kan doen

  •  Praat met ’n grootmens wat jy vertrou: Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Praat met ’n ouer of ’n ander grootmens oor jou gevoelens. Dit kan jou help om met nuwe oë na die situasie te kyk.

     “Ek het my maande lank eenkant gehou en met niemand oor my gevoelens gepraat nie. Maar vriende kan jou help om daaroor te kom. Ek het eers beter begin voel nadat ek met hulle gepraat het.”—Janet.

  •  Leer uit wat gebeur het. ’n Ander Bybelteks sê: “Verwerf wysheid, verwerf begrip” (Spreuke 4:5). Aaklige ondervindinge kan ons baie omtrent onsself leer en oor hoe ons teleurstelling hanteer.

     “Nadat die verhouding beëindig is, het ’n vriend my gevra: ‘Wat het jy uit die verhouding geleer, en hoe kan jy dit gebruik wanneer jy met iemand anders begin uitgaan?’”—Steven.

  •  Bid. Die Bybel sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Gebed kan jou help om jou hartseer te verwerk en dinge in ’n ander lig te sien.

     “Bid aanhoudend. Jehovah verstaan hoe hartseer jy is en hy verstaan die situasie beter as jy.”—Marcia.

  •  Help ander mense. Die Bybel sê: ‘Hou ’n oog nie net op julle eie sake nie, maar ook op dié van ander’ (Filippense 2:4). Hoe meer jy ander mense help, hoe vinniger sal jy die regte beskouing kry oor die feit dat die verhouding nie uitgewerk het nie.

     “Wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie, voel dit soos die einde van die wêreld, en dit is die seerste seer ooit. Maar weet jy wat, dinge raak tog beter. Ek het net tyd nodig gehad om daaroor te kom.”—Evelyn.