Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek myself motiveer om te oefen?

Hoe kan ek myself motiveer om te oefen?

 Hoekom moet ek oefen?

 In party lande is jongmense nie so fisies aktief nie, en dit is nie goed vir hulle gesondheid nie. Die Bybel sê met goeie rede dat ‘liggaamlike oefening voordeel het’ (1 Timoteus 4:8). Dink aan die volgende:

  •   Oefening laat jou beter voel. Fisiese oefening stel endorfiene vry, chemiese stowwe in die brein wat jou ontspanne en gelukkig laat voel. Party noem dit ’n natuurlike antidepressant.

     “As ek eerste ding in die oggend gaan draf, is my hele dag meer produktief en lekker. Draf laat my goed voel.” – Regina.

  •   Oefening kan jou help om op jou beste te lyk. Gebalanseerde oefening sal jou help om sterker en fikser te wees. Dit sal jou ook meer selfvertroue gee.

     “Dit voel goed om tien optrek-oefeninge te doen – ’n jaar gelede kon ek nie eers een doen nie! Die beste van alles is, ek weet ek kyk na my liggaam.” – Olivia.

  •   Oefening kan jou langer laat lewe. Om aktief te wees is goed vir jou kardiovaskulêre en asemhalingstelsel. Aërobiese oefening kan ook help om koronêre hartvatsiekte te voorkom – ’n hoofoorsaak van sterftes onder mans en vroue.

     “Wanneer ons ’n goeie oefenprogram het, wys ons vir ons Skepper dat ons die liggaam waardeer wat hy vir ons gegee het.” – Jessica.

 Kortliks: Oefening is goed vir jou gesondheid nou sowel as in die toekoms. ’n Jong vrou met die naam Tonya sê: “’n Mens sal nooit sê ‘Ek wens ek het nooit gaan hike of draf’ nie. Toe ek opgehou het om verskonings te maak en geoefen het, was ek nooit spyt daarna nie.”

As jy nie na jou kar kyk nie, sal dit breek. Dieselfde geld vir jou liggaam as jy nie oefen nie

 Wat hou my terug?

 Hier is ’n paar moontlike uitdagings:

  •   Dit is onnodig. “Ek dink jongmense dink niks kan met hulle gebeur nie. Dit is moeilik om te dink dat jy ooit gesondheidsprobleme sal hê. Jy dink dat dit net met ou mense gebeur.” – Sophia.

  •   Te besig. “Omdat my lewe so besig is, moet ek tyd maak om gesond te eet en te slaap, maar dit was nog altyd moeiliker om tyd te maak om te oefen.” – Clarissa.

  •   Geen gym-kontrak nie. “Dis duur om fiks te bly – jy moet betaal as jy na ’n gym toe wil gaan!” – Gina.

 Iets om oor te dink:

 Wat maak dit vir jou moeilik om te oefen? Dit sal harde werk vat om hierdie uitdaging te oorkom, maar die uiteinde sal die moeite werd wees.

 Hoe kan ek die oefening kry wat ek nodig het?

 HHier is ’n paar voorstelle:

  •   Neem verantwoordelikheid vir jou gesondheid. – Galasiërs 6:5.

  •   Moenie verskonings maak nie (Prediker 11:4). Jy hoef byvoorbeeld nie by ’n gym aan te sluit om te begin oefen nie. Kry net ’n aktiwiteit wat jy geniet en maak dit deel van jou roetine.

  •   Om idees te kry, hoor by ander wat hulle doen om te oefen. – Spreuke 20:18.

  •   Hou by ’n spesifieke rooster. Stel doelwitte en skryf jou vordering neer om jouself te motiveer. – Spreuke 21:5.

  •   Kry iemand om saam met jou te oefen. ’n “Oefenmaatjie” sal jou aanmoedig en jou help om te bly by jou rooster. – Prediker 4:9, 10.

  •   Verwag dat jy nou en dan sal misluk, en moenie ophou wanneer dit gebeur nie. – Spreuke 24:10.

 Wees gebalanseerd

 Die Bybel moedig mans en vroue aan om “matig in gewoontes” te wees (1 Timoteus 3:2, 11). So, wees gebalanseerd wanneer dit by oefening kom. Dit kan dalk lyk dat mense wat te veel op oefening fokus, te veel van hulleself dink. ’n Jong vrou met die naam Julia sê: “As ’n man meer spiere as breins het, is dit glad nie aantreklik nie.”

 Wees ook versigtig vir plakkate wat bedoel is om mense aan te spoor om te oefen, soos: “As jy voel jy wil doodgaan, doen dan nog 10.” Sulke raad kan jou fisies seermaak en veroorsaak dat jy nie meer fokus op “die belangriker dinge” in die lewe nie. – Filippense 1:10.

 Wat meer is, dinge wat bedoel is om jou aan te moedig om te oefen, kan die teenoorgestelde uitwerking hê. ’n Jong vrou met die naam Vera sê: “Baie meisies versamel foto’s van mense soos wie hulle graag wil lyk en hulle kyk na daardie foto’s om hulle aan te moedig. Maar op die ou einde vergelyk hulle hulleself met hierdie mense en dan word hulle teleurgestel. Dit is beter as jou doelwit is om jou gesondheid te verbeter en nie net jou voorkoms nie.”